Riaan weer op die kassie

Foto: KykNET

Riaan Cruywagen is van Maandag af weer op die kassie nadat hy November 2012 as nuusleser van SABC2 afgetree het. Riaan klim egter nou in ʼn nuwe stoel in. Hy is van Maandag al douvoordag uit die vere en sluit by KykNET se Dagbreekspan aan as ankeraanbieder.

“Ek het nou die beste van twee wêrelde. Ek begin my oggend met televisie, en dan is daar genoeg tyd in die dag oor om saam met my vrou of gesin te spandeer,” het Riaan Vrydag aan Maroela Media gesê. Riaan het destyds aan Maroela Media gesê hy het meer as 7 000 uitsendings as nuusleser gedoen waarvan hy al die aande van sy gesin af weg was. “My hele lewe het uit nuus bestaan. Ek het nooit tyd gehad om teater toe te gaan, rolprente te gaan kyk of eens boeke te lees nie. Ek gaan nou al daai lekker goed doen,” het hy destyds gesê.

Riaan sê hy is opgewonde oor die nuwe geleentheid en hy sien baie daarna uit. Hy is ook nie veel gepla oor die vroeg-opstanery nie en sê hy is in elk geval ʼn vroeg opstaner. “Om omstreeks 04:00 op te staan om 05:30 gereed en op die stel te wees, gaan dus nie veel pla nie,” het hy met ʼn laggie gesê. “Solank ek tussen vyf en sewe ure slaap inkry, is ek gelukkig.”

Dagbreek is ʼn ontbytprogram op kykNET.  Die hooffokus van die program is nuus en aktualiteit. Kykers word op hoogte gehou van weer en verkeer asook die jongste sportgebeure. Dagbreek is elke weeksdag van 05:30 tot 07:30 op DSTV kanaal 144 te siene.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.