Afrikaanse taalhulpbronne nou vir almal beskikbaar

viva afrikaansDie Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) stel Vrydag sy volle webwerf (viva-afrikaans.org) met nuwe produkte en dienste vir alle gebruikers van Afrikaans oop. Hierdie digitale platform is ʼn nuutjie vir die taal – dit maak Afrikaans nie net vir al sy gebruikers toeganklik nie, dit stel hom ook vir taalnavorsers in elke uithoek van die aarde oop.

Die dryfveer agter die projek is sy uitvoerende direkteur, professor Gerhard van Huyssteen, dosent in Afrikaanse Taalkunde aan die NWU in Potchefstroom, voorsitter van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en die aanbieder van die gewilde TV-vasvraprogram Op die spel.

“Dis ʼn groot stap vir Afrikaans,” sê Van Huyssteen. “Enigeen wat toegang tot die internet of ʼn slimfoon het, het nou toegang tot taalhulpbronne. Veral jonger taalgebruikers, taalaanleerders en gebruikers wat nie geld het vir ʼn hele versameling woordeboeke nie, behoort hierby te baat.”

Lidmaatskap van VivA is gratis, maar ernstige taalgebruikers en navorsers het die opsie om ʼn VivA+-intekenaar te word en toegang tot meer produkte te verkry.

In VivA se Adviesportaal kry gebruikers gratis toegang tot VivA se databasis van veel voorkomende taalvrae en -antwoorde. Gebruikers kan ook taalvrae aan VivA se taaladviseur, Sophia Kapp, stuur. Vir ʼn beperkte tydperk sal telefoniese navrae ook gratis beantwoord word, terwyl gebruikers ook via WhatsApp vrae aan die taaladviseur kan stel.

In die Woordeboekportaal kry intekenare toegang tot gratis aanlyn taalhulpbronne soos die Kuberwoordeboek, Entrepreneurskapwoordeboek, Voorsetselwoordeboek en Afrikaanse SkryfGoed 4 se tesourus. Behalwe dié gratis woordeboeke, kan gebruikers ook inteken op die splinternuwe HAT, ʼn versameling Engelse woordeboeke van Longman, die vertroude WAT, die Etimologiewoordeboek van Afrikaans en Blokkiesraaiselwoordeboek.

In die slimfoon-app kry gebruikers boonop toegang tot die woordelys van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls. “Oor ʼn tydperk van drie maande het meer as vyf duisend mense al die app by Google Play of die Apple App Store afgelaai,” sê Van Huyssteen, “en danksy ʼn borgskap van Atterbury Trust kan iedereen, maar veral leerders, die vanlyn app gratis aflaai en gebruik.”

VivA se Taalportaal het ten doel om die grammatika van die taal te omskryf. Dit is ʼn langtermynprojek (tot en met 2019) wat deur navorsers aan verskeie plaaslike en internasionale universiteite onderneem word. Dié ambisieuse projek is deel van die Nederlandse Taalportaalprojek – ʼn inisiatief wat Afrikaans, Fries en Nederlands omvattend en vergelykend wil beskryf. Soos wat navorsing afgehandel word, word die stukke aanlyn beskikbaar gestel.

Die Korpusportaal van VivA is ook die eerste van sy soort vir Afrikaans. Gebruikers kry toegang tot verskeie versamelings Afrikaanse tekste, wat onder lisensie vir navorsingsdoeleindes beskikbaar gestel word. Met behulp van die webkoppelvlak kan ʼn mens vir taalpatrone soek in korpusse van die Taalkommissie, RSG, Protea Boekhuis, Lapa Uitgewers, Maroela Media en ander verskaffers.

“Ons belangrikste oogmerk is natuurlik om Afrikaans se hoë funksies uit te brei en te versterk. Digitale bronne soos databasisse word makliker en vinniger bygewerk as boeke, en ons kan daagliks nuutskeppings of oplossings vir taalkwessies opteken. Dit ondersteun die taal in al sy gebruiksdomeine.

“Maar ons wil ook Afrikaans vir al sy gebruikers lewend en toeganklik maak. Ons leef in ʼn digitale wêreld, met skoolkinders en studente wat al hoe meer van digitale hulpbronne gebruik maak. Ons erken dit, en wil met VivA vir hulle ʼn kanaal bied waar hulle maklik en vinnig kan naslaan. Dit is belangrik om daarop te let dat die virtuele wêreld waarin hulle leef glad nie taalloos is nie. Die feit dat jy iets op ʼn rekenaar lees of hoor, beteken nie taal het uitgesterf nie. Dis belangrik om dit steeds korrek en doeltreffend te kan aanwend.”

VivA is ʼn maatskappy sonder winsmotief met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, ATKV, Dagbreek Trust en Noordwes-Universiteit as stigterslede. Die projek word ook finansieel ondersteun deur die Atterbury Trust, PUK-Kanselierstrust, NWU se Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT), AfriForum, die Afrikaanse Taalraad, Fonds Neerlandistiek Suid-Afrika en die Vriende van Afrikaans. RSG en Rapport is VivA se mediavennote.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gideon Wentink ·

Wat ’n pragtige idee. Dankie aan prof. Van Huyssteen en die span by VivA vir hierdie inisiatief.

Maroela: in die derde laaste paragraaf moet die teks nie lees “…Afrikaanse se…” nie, maar eerder “…Afrikaans se…”.

Nico Strydom ·

Dagsê Gideon

Dankie dat jy ons van die vingerfout bewus gemaak het. Ons het dit onmiddellik reggestel.

Vriendelike groete
Nico Strydom nms Maroela Media

Joev ·

Viva klink so lekker liberaal. Sal die vrugte pluk daarvan. “Vir Afrikaans” , dankie hoor, ons kon die nie self doen nie, dink maar aan die ” Afrikaanse virtuele instetuut” sou geklink het soos self gemaak, deur Afrikaans vir Afrikaans.

Elza Lorenz ·

Hoe sou byvoorbeeld na ‘n term of ‘n nuutskepping soek. ‘n Voorbeeld sal baie help.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.