Al-Basjir nie dan in SA

Omar al-Basjir, president van Soedan

Omar al-Basjir, president van Soedan

Die Soedanese president, Omar al-Basjir, gaan nie volgende week na Suid-Afrika reis vir die Forum vir China-Afrika-samewerking (Focac) wat in Johannesburg gehou word nie.

Die Soedanese ambassade in Pretoria het gesê die land se eerste visepresident, Bakri Hasan Saleh, sal die Soedanese afvaardiging lei.

Saif Ahmed, woordvoerder van die ambassade, het gesê al-Basjir is tans baie besig met baie belangrike plaaslike kwessies en dat hy onlangs aan drie forums deelgeneem het. Hoewel Ahmed se verklaring daarop gedui het dat al-Basjir nie die Focac-beraad sal kan bywoon nie weens ander verpligtinge, het amptelike bronne aangedui dat die Suid-Afrikaanse en Chinese regerings hom versoek het om nie die beraad by te woon nie.

Al-Basjir het in Junie vanjaar vir ʼn opskudding gesorg toe hy Suid-Afrika besoek het om die Afrika-Unie se beraad by te woon. Die Pretoriase hooggeregshof toe gelas hy moet in hegtenis geneem word, net voordat hulle gehoor het hy het reeds die land verlaat.

Basjir word beskuldig van oorlogsmisdade, misdade teen die mensdom en volksmoord in Soedan se westelike Darfoer-gebied. Twee lasbriewe vir sy inhegtenisneming is in 2009 en 2010 uitgereik. As ʼn lid van die internasionale strafhof, is Suid-Afrika verplig om Basjir aan die hof uit te lewer.

Die ANC het hierna versoek dat Suid-Afrika van die Internasionale Strafhof moet onttrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gertjie ·

Alles wat die mense aanraak gaan tot niet.
Het die ANC ‘n towerstokkie.

Eddie ·

Ek sou ook nie wou kom kuier as ek hy was nie. Dit gaan nie lekker wees om in die tronk gehou te word tot hy uitgelewer gaan word as dit wel sou gebeur nie. Is reg bly maar eerder waar jy is jy mis niks nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.