Burgemeester in hof oor bedrog

Argieffoto

Argieffoto

Die burgemeester, speaker en twee ander beamptes van die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit in Noordwes, het in die Mahikeng-landdroshof verskyn op aanklag van bedrog.

Kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, sê burgemeester Phaladi Audrey Saku (49), speaker Vincent Smanga Dila (39), raadslid Keboneng Peddy Mokotong (55) en Kgotlaetsile Piet Ramoabi (46), ‘n bestuurder in Saku se kantoor, het Woensdag in die hof verskyn.

Ramaloko sê die vier het hulself aan die Valke oorgegee. “Die Mahikeng-landdroshof het lasbriewe vir hul inhegtenisname uitgereik na ʼn lang ondersoek oor R300 000 se bedrog,” het Ramaloko gesê. “Die verdagtes word daarvan beskuldig dat hulle dubbelsalarisse ontvang het nadat hulle in hul huidige posisies aangestel is.”

Die verdagtes is op borgtog van R5 000 vrygelaat.

Saku is in Junie 2011 as uitvoerende burgemeester van die munisipaliteit aangestel. Sy het glo van Junie 2011 tot Desember 2011 steeds haar salaris van haar vorige werknemers gekry. Sy het voorheen by die departement van onderwys gewerk.

Ramaloko sê Dila het glo tussen Junie tot Augustus 2011 meer as R78 000 in salaris ontvang van die departement van landbou waar hy gewerk het voor hy as speaker aangestel is.

Mokotong het as ʼn onderwyser gewerk en R71 707 ontvang van Junie tot Augustus 2011. Sy is in Junie 2011 as ʼn voltydse raadslid aangestel.
Ramoabi het meer as R40 000 van die departement van onderwys gekry. Die saak is tot 21 November uitgestel.

Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit is Woensdag onder administrasie geplaas. ʼn Administrateur is aangestel om die munisipaliteit se uitvoerende funksies vir 12 maande oor te neem.

Die munisipaliteit ervaar sedert 2011 bestuur- en administratiewe probleme. Dit sluit die wanbetaling van skuld en diensleweringkwessies in.

Die munisipaliteite van Mafikeng, Ditsobotla, Ramotshere Moiloa, Tswaiing en Ratlou is almal deel van die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pietsnot ·

Waar’s die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit? En Mahikeng?
Ek probeer nou nie te oningelig klink nie, maar sê asb tog net. Moet ons aflei dis die ou Mafikeng Mun?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.