Dodetal styg van gru-ongeluk waarin Swazi-meisies sterf

Swazi-meisies tydens die Umhlanga-rietdans. Foto: Wikimedia

Swazi-meisies tydens die Umhlanga-rietdans. Foto: Wikimedia

Die dodetal van die gru-ongeluk waarin talle jong Swazi-meisies dood is, het teen Sondag tot 65 gestyg.

Maroela Media het vroeër berig die meisies is Vrydagaand met ʼn vragmotor vervoer om riete te gaan sny vir die Umhlanga-rietdans in Swaziland. Die vragmotor het glo teen ʼn voertuig gebots op die Mbabane-Manzini-hoofweg.

Pres. Jacob Zuma het Sondag ʼn boodskap van medelye aan Koning Mswati III en die Swaziland-regering gestuur. “Die Suid-Afrikaanse regering deel in die rou van die families van die oorledenes. Ons wens die beseerdes ʼn spoedige herstel toe,” het Zuma gesê.

Die Swaziland-regering het geen amptelike verklaring oor die ongeluk uitgereik nie, maar die regtegroep Swaziland Solidarity Network (SSN) het gesê minstens 65 meisies het in die ongeluk omgekom. Volgens die Times of Swaziland was die meisies in ʼn oop vragmotor wat teen ʼn ander voertuig gebots het voordat ʼn tweede vragmotor van agter teen die eerste vragmotor gebots het.

Siphelele Sigudla (18), ʼn oorlewende, het aan die koerant gesê daar was ongeveer 50 meisies op die eerste vragmotor.

SSN het beweer die media en die polisie is verbied om oor die voorval te berig of inligting te verskaf. Die groep het daarop aangedring dat die rietdans afgestel word en dat die koninklike familie sy verantwoordelikheid nakom deur die families te help om hul kinders te begrawe.

Dit is nog nie bekend of die rietdans wel Sondag sal voortgaan nie. Die koning kies gewoonlik ʼn nuwe vrou by die tradisionele seremonie.

© RDM News Wire

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chevy ·

Hartseer nuus – seker net so teleurstellend vir die ou wilpse koning!

Johannes Meintjes ·

Dit is ‘n groot, baie tragiese en betreurenswaardige verlies vir ‘n klein inheemse volk wat ook streef om tradisies en kultuur te handhaaf. Miskien kan ons eendag al die politiekery oorbrug en kulture respekteer terwyl daar op die gemeenskaplike en sosio-ekonomiese belange van Suider-Afrika gefokus word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.