Dowe leerlinge sterf in brand by skool

Foto: Twitter

Foto: Twitter

Drie leerlinge van ʼn skool vir dowes in Noordwes is Maandagoggend dood toe ʼn brand in die skool se meisieskoshuis uitgebreek het.

Maj. Pelonomi Makau, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn brand het omstreeks 01:00 by die Noordwes Sekondêre Skool vir Dowes in Leeudoringstad uitgebreek.

Die meisies wat in die brand omgekom het, was onderskeidelik 16, 17 en 18 jaar oud. Altesaam 23 ander leerlinge is na die hospitaal gehaas om vir beserings en rookinaseming behandel te word.

“Die brand het in die rekenaarkamer van die meisieskoshuis begin,” het Makau gesê. “’n Onbekende aantal skootrekenaars en 23 ander rekenaars is in die brand vernietig. Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.”

Makau het gesê die skool is tydelik gesluit terwyl ʼn forensiese ondersoek gedoen word. ʼn Saak van brandstigting word ondersoek. Die omvang van die skade is nog nie bekend nie.

Bruno Druchen, die nasionale direkteur van DoofSA, het ʼn foto van die brand op Twitter gedeel en sy medelye teenoor die oorledenes se families uitgespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.