Hennie Niehaus, stasiebevelvoerder van NSRI-Wilderness, het gesê die NSRI is omstreeks 18:30 Saterdagaand na die strand ontbied nadat mense iemand om hulp hoor roep het.
Volgens Niehaus het hulle gesien die rots sal nie heeltemal onder die water verdwyn nie, maar dat dit lank sou duur voordat die water genoeg sak sodat die mense self na veiligheid kan loop.
ʼn Reddingswerker het met toue na die rots geswem. Errol Duitsjan (53), sy seun Shonnold (13) en ʼn vriend Ronaldo de Klerk (7) het op die rots gestrand geraak terwyl hulle visgevang het. Volgens Niehaus was hulle reeds in die vroeë stadium van hipotermie.
Niehaus het gesê Duitsjan, sy seun en die vriend is een vir een met behulp van die reddingswemmer en toue na veiligheid gebring. Almal is vir ligte hipotermie behandel en het geen verdere beserings opgedoen nie.