Eiendomsagent twee uur lank deur ‘huiskopers’ vasgebind, beroof

polisie-huisroof-crime

Argieffoto: SAPD/Facebook

Nadat ʼn eiendomsagent van Heidelberg Donderdag twee uur lank op ʼn badkamervloer gelê het waar rowers haar vasgebind en gelos het, het haar man ʼn oproep van die rowers gekry om hom te sê waar sy vrou is.

Suzette van Loggerenberg (39), ʼn agent vir HRE Eiendomme, is omstreeks 10:00 na ʼn huis in Vosstraat, Rensburg, nadat twee mans wat hulle as kliënte voorgedoen het, gevra het of hulle na die huis kan gaan kyk.

“Hulle het my reeds vroeër die week gebel, gesê hulle stel belang in die eiendom en dat hulle reeds al die nodige finansiële dokumente in plek het. Hulle het gevra of hulle nog iets moet saambring,” het Van Loggerenberg gesê.

Sy vertel dat sy die oggend gou tussen afsprake na die huis is en daar die twee mans ontmoet het. Hulle het deur die huis gestap, vrae gevra oor die eiendom en selfs die ligte en oond getoets, het sy gesê. “Toe ons in die hoofslaapkamer kom, het hulle ʼn vuurwapen uitgepluk en vir my gesê ek moet badkamer toe gaan.”

Daar het hulle haar hande en voete met kabelbinders vasgemaak en met ʼn tou haar hande aan haar voete vasgemaak en haar voete aan die handdoekreling. Die rowers het haar selfoon, beursie en Toyota-bakkie se sleutels gevat en gevra of die voertuig ʼn opsporingstoestel het. Hulle het daarna vir haar bankkaarte se PIN-kodes gevra en gesê daar wag van hul makkers buite wat gaan ry om die PIN-kodes te toets. Sou die kodes nie reg wees nie, sal hulle haar doodmaak, het hulle gesê.

“Ek het vir hulle die regte nommers gegee, want ek het nie geweet wat hulle sou doen nie. Hulle het heeltyd uit die badkamer gegaan en weer teruggekom en in ʼn stadium het hulle my oë en mond met kleefband toegemaak,” het sy gesê. “Later het een selfs ingekom en my stewels onder my kop gesit sodat ek nie met my kop op die koue vloer moes lê nie.”

Van Loggerenberg het gehoor hoe iemand met haar bakkie wegry en sy het stil op die vloer bly lê om seker te maak hulle is weg. “Ek het later gevoel ek kan die knope van die toue met my vingers bykom en het stadig begin om hulle een vir een los te maak. Ek kon my voete ook loskry van die handdoekreling, want hulle het dit nie vasgeknoop nie.”

Sy het na die venster toe gegaan en die diefwering gebruik om die kleefband van haar oë en mond af te druk. “Ek het seker vir tien minute geskree voordat die bure my gehoor het. Toe hulle daar aankom, het hulle vir my gesê dis al 12:00. Ek kon dit nie glo nie,” het sy gesê.

Suzette is na ʼn hospitaal geneem waar sy ʼn kalmeerinspuiting en pynmedikasie ontvang het. Omstreeks 18:00 daardie aand het haar man, Ernst, ʼn oproep gekry van ʼn onbekende nommer. ʼn Man het vir hom die adres van die huis gegee en gesê hy sal sy vrou daar aantref. Toe het hulle die verbinding doodgedruk.

Van Loggerenberg se bankstate het later getoon dat die rowers haar bankrekeninge leeggemaak het by Spitz, ʼn luukse skoenwinkel in Sandton City-winkelsentrum.

“Ek is baie dankbaar dat hulle my nie seergemaak het nie, want ek het regtig gedink hulle gaan my doodmaak. Elke keer dat hulle teruggekom het in die badkamer in, het ek gedink hulle kom nou om my dood te maak,” het sy gesê. “Ek sal nog berading kry ná wat gebeur het, maar ek dink nie ek gaan meer ʼn eiendomsagent wees nie. Dit is absoluut my passie en my groot liefde, maar dit is nie my lewe werd nie.”

Konst. Mapaseka Maketekete, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig en gesê ʼn saak van huisroof word ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anita ·

Dat mens in so ‘n siek land bly om dankbaar te wees dat jy nie verkrag of vermoor word nie.

Kringtelevisie kamers by Sandton City kan gebruik word in die opsporing van die rotte.

Milan Bye ·

Ek hoop sy het mooi gekyk na hoe hulle lyk, aangesien hulle geen maskers aangehad het nie. Dalk help dit as sy hulle voorkoms beskryf…

pop ·

Daar gaan nie meer n dag verby wat ek nie stomgeslaan word deur die kriminele se vindingrykheid nie. En dis nie van honger nie, dis blote misdadigheid. Ons kan nooit n eerlike dag se werk kry waar die besoldiging meer sal wees as wat hulle in minute maak deur misdaad nie.

Jannes ·

Moenie jou loopban opgee nie. Weier net in die toekoms om die gemors na huise toe te vat.

moeks ·

Agente sal in die toekoms 2 of meer moet saamgaan. Kan jul nie ‘n stelsel in plek sit waar as jy byvoorbeeld nie na ‘n sekere tyd kontak maak met jou kantoor nie, iemand sal ondersoek instel. Suzette ek is jammer oor dit wat jy moes deurgaan. Was self ‘n slagoffer in Desember. Sterkte!

Marieta ·

Die skoenwinkel se personeel gaan moeilik verduidelik hoeveel skoene koop mens om ‘n bankrekening leeg te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.