Geveg by nagklub lei glo tot jong man se dood

Carl Schoombie. Foto: Facebook

Carl Schoombie. Foto: Facebook

Carl Schoombie (27) is Woensdag oorlede nadat hy Saterdag met ernstige kopbeserings in ʼn Kaapse hospitaal opgeneem is.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het gesê Schoombie het saam met vriende by ʼn nagklub in Claremont gekuier toe ʼn geveg uitgebreek het, maar hy was glo nie daarby betrokke nie en het daarna die klub in ʼn taxi verlaat.

Volgens Van Wyk is die taxi in die rigting van Rondebosch deur ʼn ander voertuig van die pad af gedruk. Die twee insittendes van die voertuig was glo ook vroeër die aand by die nagklub. Die twee het Schoombie en sy vriende glo daarvan beskuldig dat hulle die geveg begin het. Schoombie en sy vriende het glo herhaaldelik gesê hulle was nie betrokke nie, maar is nogtans erg aangerand.

Schoombie het ernstige kopbeserings opgedoen en is na ʼn hospitaal gehaas. Hy is vroeg Woensdagoggend oorlede. “Die polisie ondersoek ʼn saak van moord. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.”

Die bestuur van die Tiger Tiger-nagklub, waar Schoombie en sy vriende gekuier het, het intussen gesê hulle is platgeslaan deur die nuus van sy dood. “Die oortreders is vermoedelik dieselfde mense wat uit die klub verwyder is nadat hulle moeilikheid gemaak het.”

Volgens die klub was Schoombie nie by die geveg betrokke nie. “Tiger Tiger het al die beeldmateriaal van kringtelevisiekameras aan die polisie oorhandig en sal op enige manier saamwerk om te verseker dat geregtigheid geskied.” Schoombie was volgens berigte ‘n student aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Schoombie se broer, Lee, het intussen op Facebook hulde aan sy broer gebring. “My broer, my vriend, my bloed, my mentor vir altyd! Moenie bekommer oor ma, pa en Jade [hul suster] nie, ek sal vir die res van my lewe na hulle omsien. Hulle is in my vesting. Niks in hierdie wêreld sal aan hulle raak nie. Ek is so lief vir jou. Ek kan jou reeds in my hart voel! Ek het nou my en jou krag. Ek is onkeerbaar! Jou nalatenskap sal van vandag af in my voortleef. Ek is lief vir jou!!!”

Enigiemand met inligting oor die voorval, word versoek om konst. Siya Gqamana, die ondersoekbeampte, te kontak by 073 960 9266 of Crime Stop by 08600 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Sumari ·

Ek hoop daai mans wat dit gedoen het kom na vore. As julle ‘n gewete het, sal julle dit doen.

Magdalena Pretoria ·

Liewe familie, my hart gaan uit na julle! Dit was so onnodig v die Jong man om dood geslaan te word. Die skuldiges sal hulle “deel” kry. God slaap nie! Sterkte familie en vriende.

Leeutjie ·

Drank maak jou groot en sterk en jy kan maar slaan en vloek. Maar more as jy nugter is na so insident, dan wil ek nie jy wees nie… Sit gaan jy sit en jy gaan dit verdien! ‘n Onskuldige jongman het gesterf! Dis verskriklik en ek hoop dat julle wat dit gedoen het baie lank gaan sit! Ek hoop ook dat julle rehabiliteer van julle drinkery want julle lewe gaan nooit weer dieselfde wees nie. Een onbesonne daad kan jou lewe ‘n leeftyd verwoes!

Leeutjie ·

Ek wil net byvoeg dat as dit my seun was sou jy nie geleef het om jou storie te vertel nie! Hierdie pragtige seun is doodgeslaan!

Tina ·

My hart skiet in stukke as ek hierdie lees. Hierdie geweld as ons kinders uitgaan? 18 dae terug, 5 uur die oggend kry ek ook ‘n oproep, my seun lê in ‘n staatshospitaal, hulle kon my nie opspoor nie, erg aangerand in ‘n nagklub, Presleys. Dit was die langste rit van my lewe, om nie te weet of ek hom in die lykshuis van die hospital of intensief gaan aantref nie, kringtelevisie wys hy dans en die volgende oomblik lê hy in ‘n plas bloed, gebreekte neus, harsingskudding. Gesig onherkenbaar geslaan, vir sy foon??? Wel, dis al wat weg is, en dit binne die klub?? Waar is die bouncers? Hoe kan ek ooit weer okay voel as my seuns uitgaan? Selfs al soek hulle nie moeilikheid nie. Die aggressie onder ons jong mans is verskriklik en dan kom drank die vieslike ding, en ruk mense weg. Ek hoop hierdie moordenaar word aangekeer, ongelukkig sal dit dit nie vir Carl terugbring nie. My hart gaan uit na julle, ek huil saam met ‘n ma vandag. Dit kon ek gewees het.

RITA ·

My innige simpatie met die ouers, broers en susters. God sal julle die nodige krag gee. Geregtigheid sal seevier. Sterkte vorentoe

Anne ·

Hierdie is so onnodig & so hartseer. Drank is so n duiwelse euwel as mense nie weet wanneer is genoeg genoeg nie. My hart is bitter seer vir die familie & vriende. Pragtige boodskap van sy broer. Julle is in my gebede.
Daar was Saterdag oggend n messteek geval in Bill Bezuidenhout in Bellville waar n jong seun van 20 jaar met n mes gesteek is. Hy is tans in die ICU & ons bid net vir sy herstel.

Magda ·

My hart gaan uit na die ouers. Mag die jong man in vrede rus. My seun was ook September aangerand in n Oosrandse kuier plek. Dood onskuldig. Hy was gelukkig, sy skedel is wel gekraak maar dank die Here hy lewe. Ek weet nie wat die mense daaruit kry om onskuldige mense so te slaan nie. Mag die skuldiges nie weer die buitekant van n tronk sien nie.

wes kaap ·

Alle sterkte aan hierdie familie!!!! God sal julle hier deur dra, Hy sal julle hartseer trane afdroog!!!! Ek hoop die gemors word gou gevang en die sleutels word weg gegooi.

BUSFARK VAN PLETSEN ·

Hierdie storie het vir my nou a knop indie keel gegee sterkte vir die famielie hoop die skildige word gevang

Karin van Niekerk ·

Ons jongmense moet van hierdie plekke begin wegbly, die drek wat daar rondhang en drugs en drank oormatig gebruik en dan wil moor en slaan. Begin eerder partytjies hou by huise met vriende wat jy ken of reel intieme huislike bymekaarkoms. Regtigwaar dit gebeur nou gereeld wat ‘n mens hierdie tipe van ding sien en hoor. Asb jongemense moet nie hierdie plekke toe gaan nie dit is die duiwel se huise wat onskuldige mense en hul gesinne vernietig. In die oudae toe ‘n mens self partytjies op die plase of huise gereel het, het jy nie gehoor van hiedie tipe gemors nie.

pauline ·

Karin ek stem, maar dan kom di keuse van vriende ook in. Ja daai jong man het sy lewe verloor en dis ni fair nie. Drank en dwels bly n ewel al partytjie jy by die huis. GEEN DRANK EN DWELS nie se ek is maar ouds maar nie 1 van my 2 seuns ken daai plekke se binnekant ni

Genis ·

Brandewyn het nie brieke nie. Die arme kind was net op die verkeerde plek, verkeerde tyd.

André du Toit ·

Gee nie om hoe plat ‘n pannekoek is nie, dit het twee kante. Wat gebeur het is totaal onaanvaarbaar. As ‘n persoon weet dat so iets kan gebeur by ;n plek van “ontspanning”bly weg daar. Karin is 150% korrek. Geen persoon kan in die verkeer speel en nie verwag om nie raakgery te word nie. My hart is saam met die ouers, want deel van hulle lewe, geskiedenis en toekoms is weg geneem. Sterkte aan hulle.

Louise ·

Dis ouers se skuld wat jou kinders van kleins af leer baklie, baklei vir wat jy soek.
As iemand iets se dan slaan jy sy mond toe, Hierdie arme kind word van kleins af groot met agressie.
Dis hartseer ek voel so jammer vir hierdie man sy lewe het nog voor hom gele.
Ouers leer nie meer hulle kinders om konflik op n hoflike manier uit te sorter nie.
Dis als met die hande, meisies moet soos n tom booi groot gemaak word en leer baklei en n jongseun word nie n man genome as hy nie kan baklei nie.
Uit al daai kom die res, baklei, drank dwelms……..
Baie jammer aan die familie en mag die Vaders sy hand van beskerming oor julle hou.

rietrot ·

Omdat daar niemand in die tronk sit nie “soos dit hier staan” vertel dit jou klaar dat iemand gaan wegkom met moord. Realiteit is nagklubs trek mense aan wat mense WIL aanval. Dis hoekom hulle daar sit en bid vir moeilikheid, sodat hulle hul bloed-lus kan bevredig. Die aanvallers het doel bewus opgetree dis skokkend om te dink hulle is nie in die tronk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.