Kunstenaar se moordenaars gevonnis

Clinton de Menezes Foto: Facebook

Clinton de Menezes Foto: Facebook

Vier mans wat verantwoordelik is vir ʼn reeks gewapende rooftogte waartydens die Suid-Afrikaanse kunstenaar Clinton de Menezes dood is, is Vrydag in die hooggeregshof in Durban gevonnis.

Regter Ester Steyn het Siyabonga China Khoza (25), Lungani Tevin Ngidi (23) en Bongani Makhatini (28) tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op De Menezes. Fisto Alimasi (26) is tot ses jaar tronkstraf gevonnis nadat die goedere wat by die ander drie se slagoffers gesteel is, in sy besit gevind is.

“Toe julle hom vermoor het, het julle ʼn vrou en ʼn jong dogtertjie van die mees kosbaarste ding wat hulle het beroof; ʼn man en ʼn pa,” het Steyn tydens vonnisoplegging gesê.

Khoza, Ngidi en Makhatini is in Maart skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede, poging tot moord en huisbraak.

Alimasi, van die Demokratiese Republiek van die Kongo, is skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede en huisbraak.

Maroela Media het vroeër berig De Menezes is op 31 Desember 2013 dood toe hy in die bors geskiet is. Hy het probeer om Khoza, Ngidi en Makhatini te verhoed om Simon Malpas se huis, waar hy by sy vrou en dogter gekuier het, te betree.

Jacqui Durandt, De Menezes se suster, het aan die hof verduidelik hoe die skietery hul familie getref het. Sy het gesê De Menezes se dogter Eva en vrou Nicola Saward, wat nou in Londen woon, is te bang om by familie in Suid-Afrika te kom kuier. Saward kon vir bykans ʼn jaar lank ná die tragedie nie werk nie. Sy is gediagnoseer met post-traumatiese stressindroom. Eva begin paniekerig raak wanneer sy nie weet waar haar ma is nie.

“Ek het nie net ʼn boetie verloor nie, ek het ʼn hele familie verloor,” het Durandt gesê.

Klik hier vir vorige berigte oor Clinton de Menezes op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

CHRISTA ·

Ek hoop die vonnis sal VOLLEDIG uitgevoer word. Moordenaars ontvang TE GOU parool. LEWENSLANK moet LEWENSLANK beteken!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.