Limpopo-sakeman in hof ná nog ʼn moord

Rameez en Fatima Patel. Foto: Facebook

Rameez en Fatima Patel. Foto: Facebook

Rameez Patel, die sakeman wat aangekla word van die moord op sy vrou en verlede week weer in hegtenis geneem is in verband met ʼn ander moord, het Maandag in die Polokwane-landdroshof verskyn.

Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het gesê die saak is tot 11 Augustus uitgestel wanneer Patel om borgtog sal aansoek doen. Hy bly in aanhouding. Patel was uit op borgtog toe hy Vrydag in hegtenis geneem is in verband met die moord op Tony Adams in 2013.

Volgens Otto is Adams die laaste keer gesien toe hy Patel se erf binnegegaan het. “Hy is toe met ‘n hokkiestok aangerand en sy liggaam is in ‘n parkeerarea by ‘n supermark in die omgewing gelos.”

Patel word ook beskuldig van die moord op sy vrou in April vanjaar. Hy voer aan dat sy vrou deur rowers in hul huis vermoor is. Hy is later op borgtog van R250 000 vrygelaat en moet weer op 22 September in die hof verskyn in verband met dié saak.

Otto het gesê Fatima Patel se liggaam is verlede week opgegrawe vir verdere forensiese toetse.

Klik hier vir alle vorige berigte oor Rameez Patel op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.