Limpopo-skoolseun dood toe bakkie oor hom ry

John Kuhne. Foto: Facebook

John Kuhne. Foto: Facebook

ʼn 17-jarige leerling van Louis Trichardt in Limpopo is Dinsdag dood nadat hy in ʼn motorfietsongeluk betrokke was.

John Kuhne, ʼn gr. 11-leerling aan die Hoërskool Louis Trichardt, was glo op ʼn plaas waar hy gereeld gaan jag het toe die ongeluk gebeur het. ʼn Betroubare bron het aan Maroela Media gesê John en ʼn vriend het Maandagaand op ʼn vierwielmotorfiets gery, terwyl nog ʼn vriend in ʼn bakkie agter hulle gery het.

Die vierwielmotorfiets het glo omgeslaan en albei seuns is van die voertuig geslinger. Die bakkie kon nie betyds uitswaai nie en het bo-oor John gery. Hy het glo vanoggend weens inwendige beserings beswyk.

Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig en gesê John is in die hospitaal oorlede. “Die ondersoekspan is tans op die plaas Palmietfontuin, ongeveer 12 km buite Louis Trichart, om meer besonderhede te kry,” het sy gesê.

Louis Cilliers, hoof van die Hoërskool Louis Trichardt, het gesê John se gesin het in die dorp gebly, maar glo gereeld die plaas waar die ongeluk gebeur het besoek. John se suster, Suné, is ʼn oudleerling van die skool. “[John] was ʼn kranige hokkiespeler en het vir die eerste hokkiespan gespeel. Ek het ná die ongeluk met sy pa gepraat, maar hy is so verslae, hy kon nie eintlik praat nie. Dit is so ʼn tragiese gebeurtenis,” het hy gesê.

Volgens Cilliers is daar nog nie ʼn amptelike kennisgewing oor John se dood aan die skool se leerlinge gestuur nie, maar sal almal oor die begrafnisreëlings ingelig word sodra dit bekend is.

Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Gert ·

So tragies dat jong energieke manne se prest so moet eindig. So jammer vir die betrokke families en vriendekring. Sterkte aan almal.

Se Maar Net ·

Dit is jammer dat jong mense so tot hul einde moet kom. Baie sterkte aan die familie.

Rissiepit ·

Baie sterkte aan die families, ‘n ongeluk gebeur in n oogwink….

Christelle ·

Dit is baie tragies en my hart gaan uit na die familie.
Ek vind dit net baie interresant dat strafbare manslag hier ondersoek word, terwyl ek laas week gelees het van n bakkie wat 2 seuns se lewens ge-eis het en geen so ondersoek is eers genome?????
Hier die is baie tragies,maar mens kan tog aflaai dit is n frats ongeluk, die teen staande laas week se ongeluk met die bakkie, het geen metro polisie n poging aangewend om die bakkie van die ad te kry nie. Behoort strafbare manslag nie eerder hier van toepassing te wees nie.
Wonder maar net???????

Hannelie ·

Dis so hartseer en tragies! Baie sterkte aan sy familie en vriendin. Mag jul vrede vind en vertroos word.

Hannelie ·

Jammer ek sien ek het verkeerd getik, sterkte aan sy familie en vriende en almal wat hom geken het.

Jaks Cronjé ·

Ek weet nie wie is julle so te sé “betroubare bron” nie. Maar julle storie is HEELTEMAL verkeerd!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.