Maties-taalbeleid: ‘Meer as 30 000 steun referendum’

stellenbosch

Universiteit Stellenbosch. Argieffoto.

Meer as 30 000 oudstudente en belanghebbendes het in samewerking met die vakbond Solidariteit in ʼn onlangse referendum vir die behoud van Afrikaans op die Universiteit Stellenbosch (US) deelgeneem.

Solidariteit gaan die uitslag van die referendum Maandag tydens ʼn raadsvergadering aan die universiteitsraad oorhandig.

Die referendum volg nadat die rektor, prof. Wim de Villiers, vroeër vandeesmaand planne aangekondig het om Engels die verstektaal by die US te maak. Prof. De Villiers beweer dat dit uit gesprekke met studenteorganisasies, waaronder Open Stellenbosch, geblyk het dat Matie-studente Engels as die universiteit se amptelike voertaal steun.

Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, bevestig die wye steun vir Afrikaans op US uit verskeie oorde dat eensydige besluite deur universiteitsrade nie gelate aanvaar kan word nie. “Dit is verblydend om te sien hoedat die Afrikaanse taalgemeenskap so eensgesind vir die behoud en ontwikkeling van Afrikaans op tersiêre vlak opstaan,” het Hermann gesê.

ʼn Afgevaardigde van Solidariteit sal die uitslag van die referendum voor vandag se vergadering aan die universiteitsraad oorhandig.

Intussen het ’n vergadering met die oog op die stigting van ’n Afrikaanse alumni-vereniging die afgelope naweek op Stellenbosch plaasgevind. Dié vergadering het gevolg nadat nagenoeg 2 000 alumni van verskeie universiteite onlangs hul steun vir só ’n vereniging uitgespreek het.

’n Kerngroep het Saterdagoggend vergader om die stigtingsakte van die vereniging te bespreek. Lede van die stigterskomitee is Piet le Roux, Hermann Giliomee, Francois Venter, Annette Combrink, Jacques van der Elst, Deon Geldenhuys, Paul Colditz, Dirk Hermann en Jacques du Preez.

Lees meer oor die Maties-taalbeleid op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

anna ·

Fantasties fantasties!!!!!
Dankie mede Afrikaanssprekendes!!!!!!
Ons het saamgestaan – en kyk die uitkoms!!!

Therese van Schalkwyk ·

As oud-Kovsie het ek die genoemde Matie-referendum sonder aarseling ondersteun. Tragies dat my alma mater egter stilletjies heeltemal verengels. Waar is die mense met gesag en invloed om ook dáár te probéér keer dat ‘n kosbare erfenis heeltemal verlore gaan?

Die aanslag teen Afrikaans en die Afrikaner, en wit wees oor die algemeen in SA, laat ‘n mens amper sprakeloos. Lees Andre le Roux in Netwerk vandag en ween.

Nic Grobler ·

Ai, Sune-julle. Opskrif. 30,000 ondersteun nie ‘n referendum nie. Hulle ondersteun Afrikaans. Bietjie meer aandag asb.

humor ·

n Bietjie meer duidelikheid. Die 30,000 het hul bloot aan die referendum wat gaan oor die behoud van Afrikaans deelgeneem of het hul spesifiek vir die behoud van Afrikaans gestem.

HEVW ·

Dit is tog sekerlik die aangewese en ook n erkende weg dat sodanige referendums by ander universiteite waar Afrikaans bedreig word, sal plaasvind. Laat ons organiseer!!!!!!!!!!!

Disselboom ·

Dis seker goed om te organiseer, maar tye is dringend en is dit werklik produktief om aan (nog) ‘n vereniging en aktes te werk? Stig universiteite, rig skole op, sorg dat die Afrikanerkind met kennis en vaardigheid bemagtig word.

Ons moet pasop dat ons nie naderhand in sentiment vir Afrikaans verdrink en veragter in ‘n wêreld waar kennis en tegnologie vinnig aanstap nie.

Natuurlik verkies ons Afrikaans en is ons trots daarop, maar die stryd om voortbestaan het baie meer dele as net dit.

Therese van Schalkwyk ·

Disselboom, jy verstom my. En hier is ek onder die indruk dat die André le Roux’s onder ons dun gesaai is?

As almal soos julle redeneer het, en nie ‘n vinger gelig het om iets te doen aan die Afrikaans-dilemma by Maties nie, was daardie universiteit in 2016 suiwer Engels. Die bohaai wat opgeskop is het Wim de Villers die dwaasheid van sy besluit help insien.

Laat diegene wat vir Afrikaans omgee daarvoor werk, en spits julle dan gerus toe op die ander minder “sentimentele dele van voortbestaan”. Soos reeds opgemerk, dis bitter jammer dat Kovsies gaan verengels sonder slag of stoot. Hoe lyk dit, Solidariteit?

Gerhard Burger ·

Ek is ook baie bly oor die raad se besluit. Dit was die nodig en reg. Sonder om afbreek aan diversiteit en transformasie en al daardie skuiltes waaraan Wim en kie vasklou om ver-Engelsing van die US as beleid deurgevoer te kry, word gevolg aan die Grondwet van die land gegee. Hulle (die bestuur) was eerder bereid om ander se grondwetlike regte, nl om in Afrikaans te studeer ens te vertrap – dus die grondwet te skend, net om enkele ander s’n op onbilllike en dus onregmatige wyse te verhef. Die groot toets vir die raad nou is of de Villiers en/of sy bestuurspan die raad se gesag gaan uitdaag of nie! Hetsy op direkte wyse deur die raadsbesluit te ignoreer – dus deur voort te gaan met inwerkingstelling van die ‘besprekingsdokument’, of op indirekte wyse – deur ‘n stelselmatige inwerkingstelling. My raad aan studente en dosente – en ouers is om bedag te wees vir optredes wat teen die raad se besluit is en op te tree en regstelling te vereis. Ja, selfs ons kan nou ‘regstellende aksie’ toepas! Dit help nie gunstige besluite word in raadsale geneem en in praktyk in die wind geslaan nie. Bo en behalwe dat uitdaging van die raad se gesag besondere gevolge vir de Villiers kan inhou, sal ek in elk geval my bedanking as rektor ernstig oorweeg het as ek hy was. Die redes is na my mening vanselfsprekend.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.