Een van die mans wat Donderdag ernstig beseer is in die gru-ongeluk op die N1 in Pretoria, is Adriaan Bergh se pa.
Bergh is getroud met Melinda Bam, ʼn voormalige Mej. Suid-Afrika. Anja van Zyl, ’n vennoot van Bam, het aan Maroela Media bevestig dat Bam se skoonpa ʼn passasier in die Land Rover Discovery 4 was wat van agter teen ʼn swaarvoertuig gebots het. Van Zyl het gesê albei mans is ernstig beseer en het verskeie beenbreuke opgedoen. Sy wou egter nie verder oor hul toestand uitbrei nie en het gesê dit is ʼn baie moeilike tyd vir die familie.
Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het vroeër gesê die ongeluk het omstreeks 09:00 op die N1-hoofweg naby die Zambesi-afrit plaasgevind. Hy het gesê die twee insittendes van die motor was in die wrak vasgekeer en moes deur brandweermanne uit die motorwrak gesny word.
Intussen het Bam op haar Facebook-profiel ʼn inskrywing geplaas waarin sy mense bedank vir hul ondersteuning aan haar skoonpa en sy vriend. “Hou hulle asseblief in jul gebede! Die gebed van gelowiges het ʼn kragtige uitwerking!” het sy geskryf.
Adriaan Bergh, Bam se man en ʼn voormalige Mnr. Suid-Afrika, het geen woord op sosiale media oor die ongeluk gerep nie.