Name bekend van mans wat in heli-ongeluk sterf

Die wrak van die helikopter. Foto: SAPD

Die wrak van die helikopter. Foto: SAPD

Die name van die twee mans wat Dinsdag dood is toe die helikopter waarin hulle gevlieg het, sowat 100km noord-wes van Polokwane neergestort het, is deur die polisie bekendgemaak.

Kol. Ronel Otto, Limpopo-polisiewoordvoerder, het gesê die twee oorledenes is David Boul en Ronald Matsunga. Boul was die vlieënier. ʼn Derde passasier, Phineas Sekwela, is beseer toe hy vermoedelik uit die helikopter geval of gespring het en kragkabels getref het. “Hy is na die Helen Frans-hospitaal [in Bochum] geneem. Ek kan nie bevestig of hy steeds daar behandel word of wat die aard van sy beserings is nie,” het Otto gesê.

Die wrak van die helikopter. Foto: SAPD

Die wrak van die helikopter. Foto: SAPD

Maroela Media het Dinsdag berig die helikopter het naby die Blouberg-bergreeks neergestort toe dit tegniese probleme ondervind en in ʼn paal vasgevlieg het. Toe die helikopter die grond tref, het dit in vlamme uitgebars. Drie omstanders op die toneel is ook vir geringe tot matige beserings behandel, nadat hulle deur wrakstukke getref is.

Die helikopter het aan die Johannesburg-gebaseerde maatskappy, Henley Air, behoort. Volgens Otto was die helikopter besig om antennas op die bergreeks te installeer toe die ongeluk plaasgevind het.

Ane du Preez, bedryfsdirekteur van die maatskappy, het Woensdag aan Maroela Media gesê die lugvaartowerheid is steeds besig met ʼn ondersoek na die ongeluk en sal eers laatmiddag of Donderdag kan terugvoer gee. Du Preez wou geen verdere kommentaar lewer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CR ·

Hierdie is die 3de ongeluk waarvan ek weet wat helikopters deur Henley Air gebruik is. Maart 29, 2007, Sept 25, 2014 en 2015 – laat ‘n mens wonder wat gaan aan met daardie helikopters.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.