Nuwe kykNET-vasvraprogram: Op die spel

op die spel 2Onmiddellik of onmidelik? Komissie of kommissie? Spel jy dit kommitee of komitee? En wat beteken Opskeploer? Of, hoe groter gees, hoe groter bees?

As jy weet onmiddellik en kommissie het dubbel medeklinkers waar dit saak maak en dat komitee kort en bondig is, moet jy jou ore spits, want kykNET se splinternuwe spel-speletjie, Op die Spel, is op soek na deelnemers! Ja, vir al die wysneuse en slimkinders is daar nou geleentheid om te wys wat in jou steek en jou spelvaardigheid voor die res van die land te toets!

Die gewilde Gerhard van Huyssteen, aanbieder van Spel-intervarsity op RSG, is die Taalbaas, terwyl Rian van Heerden, die skerpste potlood in enige pakkie, die aanbieder is!

Gaan na www.beterafrikaans.co.za vir meer inligting en om in te skryf. Boonop kan jy elke dag ʼn taalwenk of wat by Beter Afrikaans kry, en só selfs dubbel seker maak dat jy reg is vir die groot spel.

Vanjaar vier ons die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal en as dit nie rede is om jou woordeboeke af te stof nie, dan kan jy seker wees Langenhoven gaan by jou kom spook.

Gerhard is ’n taalkenner van die voorste water en sal aan al die programme deelneem. Hy was betrokke by die eerste speltoetser vir Afrikaans op rekenaar, is geleentheidsdeelnemer aan Tale wat ons Praat op RSG elke Sondag en hy is ’n professor by die Puk – in Afrikaans. Boonop stuur hy later vanjaar ook die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) van stapel. Viva, Gerhard, viva!

En Rian, wat kan ’n mens sê? Altyd in die moeilikheid maar maak hy die mense té kwaad is daar ook altyd iemand bereid om tot sy redding te kom! Met sy vlymskerp intellek en humorsin, is Rian een van die gewildste aanbieders op radio én TV en vermaak hy Radio Jakaranda se luisteraars met sy sêgoed.

Op die Spel sal van 14 Julie om 20:00 op kykNET (DStv Kanaal 144) te sien wees.

Om deel te neem, gaan na www.beterafrikaans.co.za en registreer as gebruiker. Klik dan op Op die Spel 2015 en registreer as deelnemer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Peet Schabort ·

Daar is sommige Maroelalesers wat per geleentheid al gesê het dat spelling bysaak is. Solank hulle die bedoeling reg verstaan van wat daar geskryf staan, dan maak spelling van woorde nie eintlik saak nie.

Elfie ·

Dit klink nou na iets om te kyk, hopelik sal al die wat so sleg spel saamkyk. Mens is nooit te oud om te leer en ek is seker ek sal ook ‘n paar dinge byleer en kan nie wag dat dit uitgesaai word nie. Mens soek soms bietjie programme met pitkos!

nig ·

Sien uit na so program. En dat Rian dit gaan aanbied kan net vet pret wees!

Milani Le Roux ·

Wil net julle reg stel ons bly in Botswana en die aand van die 18 Augustus 2015 was daar n vraag wat noem jy mense wat in Botswana bly kan nie meer die ander twee antwoorde onthou nie maar twee van die antwoorde was Batswanas en Botswana- Inwooners julle se dis Botswana – Inwooners dis verkeerd die regte antwoord is Batswanas dis wat hulle genoem word . Baie Dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.