Omstrede Prasa-lokomotief ontspoor met Shosholoza Meyl-passasiers

Die treinwaens wat ontspoor het. Foto: Carel de Nysschen

Die treinwaens wat ontspoor het. Foto: Carel de Nysschen

Altesaam 12 mense is laat Dinsdagaand beseer nadat ʼn Shosholoza Meyl-passasierstrein, wat blykbaar deur een van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) se veelbesproke nuwe Afro4000-lokomotiewe getrek is, naby Kimberley in die Noord-Kaap ontspoor het.

Carel de Nysschen, ʼn passasier wat tydens die voorval aan boord was, het Woensdag aan Maroela Media gesê hy en sy vrou Ilze, was saam met ʼn toergroep van nagenoeg 20 mense van Johannesburg onderweg via Kaapstad na Namakwaland om blomme te gaan kyk toe die trein omstreeks 23:30 in Modderrivier, sowat 35 km buite Kimberley, ontspoor het.

Foto: ER24

Foto: ER24

Daar was ook talle ander passasiers op die trein, waaronder ʼn Britse toergroep.

“Dit is net die Here se genade dat ons nie seergekry het nie,” het De Nysschen gesê. “Ons was tydens die ongeluk in die slaapwaens meer aan die agterkant van die trein. Die lokomotief en voorste ses trokke, wat die eetsaal, kroeg en kombuis insluit, het die ergste skade opgedoen en het op hul sy langs die spoor beland. Die trok voor ons het geknipmes maar redelik regop gebly. Agter ons was die skade al hoe minder.”

De Nysschen het gesê hy en sy vrou het wakker geword toe hulle ʼn stamp gevoel het. “Ek weet nie of die trein iets getref het en of dit dalk die treindrywer was wat die noodrem getrek het toe die trein onstabiel geraak het nie. Die trein het kort daarna begin waggel en toe weet ek dit is nie meer op die spoor nie.”

Hy het gesê die polisie en nooddienste was spoedig op die toneel en elke passasier is ondersoek en die opsie gegee om na ʼn hospitaal geneem te word vir waarneming. “Ek het ʼn foto met my selfoon vanuit ons kajuit geneem. Ons kon nie naby die voorkant van die trein kom om te kyk wat gebeur het nie, want die waens het teen ʼn steilte gelê en nooddienswerkers het passasiers weggehou vir hul veiligheid.”

Foto: ER24

Foto: ER24

Niemand van die toergroep is beseer nie en hulle is met busse na Kimberley geneem. Die groep het net ná 05:00 met ʼn toerbus vertrek op die beplande toer.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, is 12 mense beseer en het die trein gedeeltelik ontspoor.

“Die mense wat beseer is, het geringe tot matige beserings opgedoen. Gelukkig is niemand ernstig beseer nie,” het Meiring gesê.

ʼn Storm het in Julie oor die Afro4000-lokomotiewe losgebars nadat berig is dat 13 ingevoerde nuwe diesellokomotiewe, waarvoor Prasa R600 miljoen opgedok het, nie aan al die regulatoriese standaarde en maatreëls voldoen nie.

Die treine is glo ingevoer ondanks uitdruklike waarskuwings dat die lokomotiewe nie gepas is vir plaaslike spoorlyne nie en dat Prasa die nuwe diesellokomotiewe in ontvangs geneem het wat te hoog is vir die langafstandroetes waarvoor hulle bestem is.

Meiring het gesê die oorsaak van die ongeluk is nie in die stadium bekend nie en word deur owerhede ondersoek.

Die woordvoerder van Shosholoza Meyl, Lilian Mofokeng, en die woordvoerder van Prasa, Sipho Sithole, was nie dadelik vir kommentaar beskikbaar nie.

Lees die opvolgberig hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Jan maak n Plan ·

Mooi so PRASA, daar rol julle die eerste lokomotief. Dit het julle gelukkig nie te lank gevat nie, maar moenie worry nie daars nog n klomp ander wat julle ook spoedig sal kan rol, want julle luister mos nie. En oja moenie worry oor die kostes nie ons armsalige belasting betalers sal die “tab” maar seker moet optel. Ek hou julle verduideliking hieroor fyn dop – seker weer “EISH SORRY” of dis seker weer apartheid se skuld.

Narike ·

Nee, hierdie keer gaan dit weer Jan Van Riebeeck se skuld wees!!!!!

Bruno Stef ·

En daar slaan die popo die fan. Ek wonder nou net wat die grootbek woordvoerder en ontkenner wat gefire was saam met sy Ingenieur met die doktorsgraad nou se. Die verslaggewers moet maar katvoet loop in die omgewing van sy huis dit is al gerapporteer dat hy baie akkuraat met n baksteen is en n goeie voorraad ammunisie het.

CT Botha ·

Kan jy nou meer? As iemand my oupa vertel het wie gaan eendag Mercedes en BMW’s betuur sou hy dit miskien geglo het, maar ‘n nuwe lokomotief op die spore rol? Aikona!!!

chris ·

Dit is in die Kaap moet dus ou Jan se skuld wees.Hy het mos begin in 1652 om die spore wat daar was in te saboteer.

Magda ·

Dank Vader geen sterftes! Die groot problem is net die ontwrigting om almal by hul bestemmings te kry waar hul moet wees want die busdienste wat hul aanbied is ook nie altyd van die beste en dan is n vakansie ook nie meer so opgewondenheid soos dit veronderstel om te wees nie. Hoop maar net dat dit nie baie mense gaan ontmoedig om van die vervoer gebruik te maak nie want dit bly maar n vakansie op sy eie!

Wessel ·

Nie noodwendig die nuwe soort lokomotief se skuld nie. Dit kon seker met van die ouer lokomotiewe ook gebeur het.

Griki ·

Ek is ook nie ‘n Prasa-bewonderaar nie, maar in alle regverdigheid moet ons miskien maar eers wat totdat die ondersoek afgehandel is voordat ons klippe gooi.

Pierre Celliers ·

Die lokomotiewe is te hoog vir langafstand spoed en draaie,(“Top heavy”).
Dit was die bevinding van die begin af!

Hannelie ·

Van die begin af gesê hierdie besigheid kan nie werk nie. Prasa jou naam het lelik geval!!! Ou Jan van Riebeeck seker al 80 keer in sy graf omgedraai van al die beskuldigings.

Jacqui ·

Een vir een gaan die nuwe lokomotiewe iets oorkom. Probleem opgelos. Dankie tog vir versekering of hoe Prasa?

Ursa ·

Ek het dit verwag maar nie so gou nie. Koop lokomotiewe wat nie gepas is vir ons spoorlyn Hahaha wat ‘n grap – hou maar die nuus dop dit is net die begin.

neelsie ·

Daars n paar dinge wat ek nie verstaan nie…….
een is, al die stelsels wat ten gronde gaan.
Nel, miskien bedoel jy boute……

Michiel ·

Dink die ware redes gaan GOED toegesmeer word en allerlei ander “redes” gegee word.

Johan ·

Die groot vraag nou is eintlik, wie gaan braaf genoeg wees om in die nuwe treine te ry? Ek dink parkeer hulle maar langs die Fifa stadions van ons land.

NEL ·

Neelsie, dankie vir die regstelling,maar my verstand het tot stilstand geruk toe ek dit op die nuus hoor. Wonder hoeveel ander ongelukke is nog oppad met die nuwe treine. Nee wat dankie, ‘n bakkie loop sommer lekker padlangs Kaap toe.

MM ·

Dit kan nie Jan van Riebeeck se skuld wees nie. Zumpies het die kat aan die stert beet. Hulle was mos voor ons hier gewees!!! Hulle ANC het nog nie sover gedink nie!!! Wonder hoe gaan hy uit hierdie een kom?/

FM ·

Ek stem. Ek weet PRASA gaan ondersoekers viktimiseer om die ware oorsaak te verdoesel anders word hulle gefire!!

Jax van Niekerk ·

Daai lokomotiewe is dalk gekoop met geld van die TSBF.

john ·

ons mis die punt…die probleem is dat die betrokkenes nie kommunikeer nie…hulle erken dit self as hulle se dat die trein drywer stadiger sou ry as hy ingelig was dat aan die spoor gewerk word, wat die ongeluk sou voorkom.Hy het teen sy normale spoed gery

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.