Oud-SAID-werknemer vas oor bedrog van R5 miljoen

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Geoktrooieerde rekenmeester en voormalige werknemer van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is Vrydag by haar werk in Centurion in hegtenis geneem op aanklag van bedrog van meer as R5 miljoen.

Volgens Sandile Memela, woordvoerder van die SAID, het die bedrog oor ʼn tydperk van nege jaar plaasgevind.

“Die vroulike verdagte is ʼn direkteur van ʼn onderneming wat boekhouding- en rekenmeesterdienste verskaf,” het Memela gesê. “Sy het na bewering tussen 2007 en 2015 vervalste BTW-fakture en bankstate om BTW van R5.1 miljoen terug te eis, by die SAID ingedien.”

Die ondersoek het begin nadat die SAID se risiko-stelsel die belastingbetaler geïdentifiseer het vir ʼn oudit weens ʼn ongewone terugbetalingspatroon wat oor die jare aan die lig gekom het. “Die SAID se ondersoekspan het stawende dokumentasie versoek en deur derde partye bevestig dat fiktiewe fakture by die SAID ingedien is. Hulle het ook bepaal dat bankstate wat ingedien is, vervals is,” het Memela bygevoeg.

Die verdagte is ʼn lid van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters en die Suid-Afrikaanse Instituut vir Gesertifiseerde Boekhouers.

Memela het gesê die saak is aan die Nasionale Vervolgingsgesag en die polisie oorhandig wat die lasbrief vir inhegtenisneming uitgereik het. “Sy sal na verwagting Maandag in die hof verskyn.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann ·

Verdien maar eerder jou geld eerlik! Jy gaan uitgevang word as jy bedrog pleeg. Net jammer dat die hele ekonomie agv daarvan moet deurloop.

Fanie ·

Met al die bedrog en gestelery is ons Staatskas seker al lank in die rooi. Én dan word daar nog geld uitgeleen vir die buurstate ook.
Hierdie vrou moet maar terugbetaal!!! Gemeenskapsdiens in die tronk!

Dan ·

Hulle is so besig om ander mense te vervolg dat hulle hul self vergeet, hoekry hulle dit elke keer reg en dit so groot bedrae?????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.