Polisiebeampte in kritieke toestand langs pad gevind

Foto: SAPD, Facebook

Foto: SAPD, Facebook

Die polisie ondersoek ʼn raaiselagtige voorval nadat ʼn vrouepolisiekonstabel in ʼn kritieke toestand langs ʼn pad in Ogies, Mpumalanga, gevind is.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, het gesê konst. Nokukhanya Machabe (31) is tans onder verdowing in die waakeenheid van ʼn hospitaal nadat sy ernstige hoofbeserings opgedoen het. Dit is nie in hierdie stadium duidelik wat met haar gebeur het nie.

“’n Ooggetuie het Dinsdag gesien hoe ʼn vrou uit ʼn bewegende voertuig gestamp word by die Kendal-afrit in Ogies. Toe hy by haar kom, het hy gesien sy is ernstig beseer en hy het die polisie gebel,” het Mohlala gesê.

Dit het later aan die lig gekom dat die slagoffer ʼn polisiekonstabel is wat by die Delmas-polisiekantoor gevestig is.

Volgens Mohlala het Machabe glo vanaf Bronkhorstspruit geryloop toe sy deur iemand opgelaai is. Dis is egter nie duidelik hoekom sy so erg aangerand is nie, aangesien dit in hierdie stadium blyk dat sy nie beroof is nie, het hy gesê. “Die dokters het gesê ons moet haar eers ʼn paar dae gee om te herstel. Wanneer haar toestand verbeter het en sy by haar volle bewussyn is, sal ons haar verklaring kan afneem om te hoor wat gebeur het.”

Lt.genl. Mark Magadlela, provinsiale polisiekommissaris, het die voorval ten sterkste veroordeel en gesê die voorval grens aan “absolute boosheid”. “Ek verseker die slagoffer se familie dat ons alles in ons vermoë sal doen om hierdie saak op te los en die skuldiges agter tralies te kry,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.