Polisiebeamptes vas ná hulle glo man ontvoer

Argieffoto

Argieffoto

Drie polisiebeamptes van Mthatha in die Oos-Kaap en ‘n vierde medebeskuldigde is vasgetrek nadat hulle glo ʼn man van Dutywa ontvoer het.

Brig. Marinda Mills, woordvoerder van die polisie, het gesê die drie beamptes sal Woensdag in die Dutywa-landdroshof verskyn.

“Twee konstabels en ʼn sersant van die Mthatha SAPD het op 14 Mei, in uniform en met ʼn amptelike polisievoertuig, by Fikile Zikithi se huis opgedaag,” het Mills gesê. ʼn Vierde verdagte, Vukile Ngcukwa, was saam met die beamptes, maar in gewone klere en het hom as die “stasiebevelvoerder” voorgedoen.

Volgens Mills het die vier mans die huis deursoek, kamstig op soek na onwettige vuurwapens. Hulle het Zikithi glo daarna in ʼn VW Polo ingedwing en met hom na Mthatha gery, waar hulle hom gedwing het om ʼn groot bedrag geld uit sy bankrekening te onttrek.

“Iemand het die Mthatha-polisie in kennis gestel en kort nadat die voorval aangemeld is, is die voertuig opgemerk, Zikithi is gered en Ngcukwa is in hegtenis geneem,” het sy gesê. Die drie polisiebeamptes is Maandag in verband met die voorval in hegtenis geneem.

“Dit is ʼn groot teleurstelling wanneer lede van die SAPD die gereg verontagsaam en hulself by misdaad betrek, maar terselfdertyd verwelkom ons die geleentheid om van individue ontslae te raak wie se gedrag in direkte teenstelling met die SAPD gedragskode is. Die meerderheid beamptes dien hierdie kode met integriteit en dissipline,” het lt.genl. Celiwa Binta, provinsiale kommissaris, gesê.

Die beamptes is onmiddellik geskors en dissiplinêre stappe sal teen hulle geneem word, het Binta gesê.

Ngcukwa, wat nie ʼn lid van die SAPD is nie, het reeds in die hof verskyn en is op borgtog van R1 000 vrygelaat. Die saak is tot 25 Julie uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

KarooKlong ·

Aitog, gelukkig het die Polisie vinnig opgetree teen die (Polisie).
Hoop Zikithi kry sy geld terug.

Gert ·

Daar is nog so baie SAPD lede wat eerlik is maar hierdie gemors maak dat n mens niemand meer vertrou nie. Die vinger moet egter gewys word na ons patetiese regering wat alle behoorlike keuringsmetodes afgestel het en hulle vriende in diens neem. Die drie gemors sal seker net oor die vingers geraps word en more hoor ons hulle het bevordering gekry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.