Rekenmeester het geld by vigswesies gesteel

Argieffoto

Argieffoto

Allan Mark Leaser (47), ʼn rekenmeester met ʼn dobbelprobleem, is Maandag in ʼn hof gevonnis nadat hy van die Anglikaanse Vigs- en Gesondheidsorgtrust gesteel het.

Leaser het voor landdros Sabrina Sonnenberg in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Bellville verskyn op aanklag van bedrog en diefstal ter waarde van R840 000.

Staatsaanklaer Jannie Knipe het aan die hof gesê die saak vereis tronkstraf en nie ʼn toegeeflike vonnis met ʼn kort aanhouding, soos Rheaz Khan, die prokureur vir die verdediging, aangevoer het nie.

Leaser was tussen Desember 2009 tot Mei 2011 die finansiële bestuurder van die Vana Vetu-program, wat deur die Anglikaanse Vigs- en Gesondheidsorgtrust op die been gebring is. Hy het skenkings vir die weeskinders en ander hulpbehoewende kinders na sy persoonlike bankrekening oorbetaal.

Leaser het ook as ʼn rekenmeester by MMW Trucking CC gewerk en moes namens sy werkgewer die BTW-, LBS- en WVF-betalings na die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) oorbetaal. Hy het egter die geld óók in sy persoonlike bankrekening inbetaal.

Sonnenberg het gesê die man se dobbelverslawing kan nie as versagtende omstandighede beskou word nie.

Sy het hom tot ses jaar tronkstraf gevonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.