Renosterhoring-moratorium afgeskaf

Argieffoto: Reint Dykema

Argieffoto: Reint Dykema

Die moratorium op die plaaslike handel in renosterhoring is Donderdagoggend in die hooggeregshof in Pretoria ter syde gestel.

Edna Molewa, minister van omgewingsake, het reeds te kenne gegee dat sy teen die uitspraak sal appelleer. Volgens Molewa sal haar departement se aansoek om verlof tot appèl die toepassing en uitvoering van die uitspraak opskort.

“Die beslissing deur die hof moet nie beskou word as ʼn teken dat die plaaslike handel in renosterhoring ongereguleerd kan plaasvind nie. In die afwesigheid van die moratorium moet dit beklemtoon word dat alle handel in renosterhoring onderwerp sal word aan die uitreiking van die betrokke permit in terme van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Wet op Biodiversiteit, 2004 (Wet No 10 van 2004).”

Ingevolge die wet is ʼn permit nodig om in renosterhoring of enige produkte wat daarmee verband hou, handel te dryf. Volgens Molewa beteken die hofuitspraak dus nie dat iemand toegelaat sal word om in renosterhoring handel te dryf sonder dat ʼn permit wat deur die betrokke provinsiale bewaringsdepartement uitgereik is nie. Dit sluit die verkoop, skenk of verkryging of wegdoening van renosterhoring in.

Molewa het verder gesê die hof se beslissing hou nie verband met die internasionale handel in renosterhoring vir kommersiële doeleindes nie. “Kommersiële internasionale handel in renosterhoring word steeds verbied ingevolge die bepalings van die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (CITES).”

Molewa het gesê sodra die departement sy aansoek om verlof tot appèl indien, word die beslissing in elk geval opgeskort hangende die afhandeling van die appelproses.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Takke Takuuza ·

Solank daar ‘n waarde aan die goed gekoppel word sal renosters gestroop word. Vat al daai horings wat opgegaar en toegesluit word en gee dit verniet vir die oosterlinge, dan het dit nie meer waarde nie. Maar dit sal nie gebeur nie want daar is te veel partye wat “skep” uit die huidige toestand.

Jean ·

Wel siende Suid Afrika dit goed ag om God se kinders te jar, sal Hy julle “trots” onder julle uit pluk.

Jan ·

Iemand wat bietjie daaroor dink sal besef dat die beste manier om die renoster spesie se oorlewing te verseker is om die wettige handel in renoster produkte aan te help. Skep ‘n aanvraag na renosters, dan is dit vir wildsboere finansieel moontlik om op grootskaal renosters te teel. En hoe meer wettige horings op die mark, hoe minder winsgewend is die stopery.

Fred ·

God het nie renosters op aarde gesit,om handel mee te dryf nie,dis net die stupid mense wat handeldryf toelaat

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.