Sakeman se skietdood meer as ‘net gewone polisieondersoek’

Die motor waarin Wandile Bozwana geskiet is. Foto: SAPD

Die motor waarin Wandile Bozwana geskiet is. Foto: SAPD

Die DA in Noordwes het Saterdag geëis dat die dood van die sakeman wat aan sy wonde beswyk het nadat hy en ʼn kollega in hul motor op Garsfonteinweg in Pretoria geskiet is, ondersoek word.

Chris Hattingh, leier van die Demokratiese Alliansie in Noordwes, het gesê Wandile Bozwana se skietdood moet meer as net ʼn gewone polisieondersoek wees, maar ook ander gereelde ontvangers van tenders ondersoek.

“Die ondersoek moet polities onafhanklik wees en ‘n leefstyl-oudit van hooggeplaaste politici en beamptes betrokke by Noordwes se tendertoekennings insluit. Dit moet vir openbare bestudering en kommentaar in die provinsiale wetgewer voorgelê word,” het hy gesê. “Slegs dan kan die agterstallige herontwerp van Noordwes se tenders- en aankopestelsel begin en kan geloofwaardigheid herstel word.”

Maroela Media het vroeër berig die sakeman, wat in Mahikeng gebore is, is dood nadat hy na bewering nege keer deur ʼn onbekende gewapende man geskiet is. Sy vroulike kollega wat saam met hom in die motor was, is twee keer in haar middel geskiet.

Volgens Hattingh het Madoda Sambatha, Noordwes se LUR van openbare werke, gesê Bozwana het al meer as R1 miljard se kontrakte van Noordwes se provinsiale en plaaslike regerings ontvang.

Hy was ook glo betrokke by regeringsprojekte ter waarde van R305 miljoen. Bozwana het die Noordwes-regering al op verskeie geleenthede hof toe gesleep. Verlede maand het hy ʼn hofsaak gewen om ʼn staatsbankrekening met R30 miljoen en 44 staatsvoertuie oor te neem ná ʼn dispuut oor ʼn betaling.

Die regering het die saak voor die Grondwethof gebring en gesê die hofbevel, dat die bankrekening aan Bozwana oorgeteken word, het ʼn negatiewe effek op dienslewering en ʼn Artikel in die Wet op Staatsaanspreeklikheid verbied dat sodanige bevele uitgereik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

1 Miljard se kontrakte alreeds ontvang, en besig met nog R305 miljoen s’n…..en waar is jy nou?

Jan maak n Plan ·

Moral of the story – Moenie besigheid doen met die staat nie. In elk geval nie as jy wil omkoop geld betaal en dan nog te wag vir jou geld nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.