Sameswering in Yengeni-dronkbestuursaak beweer

Tony Yengeni. Foto: Chantall Presence/ANA

Tony Yengeni. Foto: Chantall Presence/ANA

Tony Yengeni, voormalige hoofsweep van die ANC, se regspan het in die Kaapstad-landdroshof beweer dat daar moontlike sameswering teen hom was met sy inhegtenisneming op ʼn aanklag van dronkbestuur.

Yengeni se regspan het die getuienis van twee metropolisiebeamptes, konstabels Kurt Buckton en Bradley Adams, bevraagteken. Die beamptes het getuig dat hulle na die toneel ontbied is om die beampte wat Yengeni in hegtenis geneem het by te staan. Dié beampte het beweer dat Yengeni “oproerig” was.

Buckton het getuig dat Yengeni na alkohol geruik het, sy oë bloedbelope was en hy onstabiel op sy voete was. Adams het getuig dat hy twee van die tekens waargeneem het wat daarop kon dui dat Yengeni onder die invloed was, maar dat hy nie onstabiel op sy voete was nie.

Adv. Dirk Uys, Yengeni se regsverteenwoordiger, het daarop gesinspeel dat Adams se getuienis dus beteken dat Yengeni moontlik nie onder die invloed was nie. Adams het egter teruggekap en gesê hy het al ondervind dat mense wat regop staan se bloedalkoholvlak tog oor die wettige perk is.

Volgens Uys het die feit dat Buckton en Adams gevra is om bykomende verklarings aan die ondersoekbeampte in te dien, amper 10 maande ná die voorval, agterdog gewek. Uys het die beamptes gevra of hulle die waarheid praat en of hulle dalk onder druk was om te lieg oor wat hulle daardie spesifieke aand gesien het.

Die beamptes het ontken dat hulle gelieg het of onder druk geplaas is om valse verklarings af te lê. Buckton het aan die hof gesê dat hy ʼn blaastoets gedoen het en dat dit ʼn lesing van 0,69 per 1 000 ml gewys het. Dit was hoër as die wettige perk van 0,24 mg per 1 000 ml.

Yengeni is ná sy inhegtenisneming in Groenpunt na die Kaapstadse polisiestasie geneem waar die beamptes ʼn dronkbestuursaak aanhangig gemaak het. Yengeni is hierna na Athlone vervoer vir ʼn bloedalkoholtoets.

Op ʼn vraag aan Buckton oor of Yengeni enigiets vir hom gesê het in die motor, het hy geantwoord: “Mnr. Yengeni het gesê indien dit in Johannesburg gebeur het, sou hy nie in hegtenis geneem word nie en dít is nie waarvoor hy in die verlede geveg het nie.”

Yengeni het onskuldig gepleit op die aanklag teen hom. Die verhoor gaan op 11 Desember voort. Yengeni is in Augustus 2013 in hegtenis geneem. Hy is ook in 2007 op aanklag van dronkbestuur in hegtenis geneem, maar is onskuldig bevind nadat vasgestel is dat daar met sy bloedmonsters gepeuter is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gert Mouton ·

Yengeni kry dit reg om met (tegniese?) toertjies sy hofsake so te verleng dat die getuies maklik onder druk geplaas kan word en dan volg verwarrende gegewens. Ek hoop die landdros bepaal nou dat hierdie uitstel die laaste was en dat Yengeni op 11 Des. die normale vonnnis kry wat verskuldig is aan mense wat onder die invloed van alkohol bestuur.

Manie ·

Julle mors belasting geld mense.
Duidelik is di er man skuldig vonnis hom en kry klaar.

Jan maak n Plan ·

Haai nooit, julle kan nie so met die man wees nie. Hys seker nog met alkohol gevorsvoed ook. Sluit hom diep toe en gooi die sleutel weg. As hy wit was dan het hy al lankal n oranje oorpak aan gehad.

GES ·

Ek hoop nie iemand mors die saak weer op nie. Dit is hoog tyd dat Yengeni aarde toe gebring word. Hy verkeer duidelik onder die indruk dat hy ‘n soort van god is en verhewe bo die wet is.

Dan ·

Nee kyk, as hy so aangestap kom met sy hande in sy broeksakke kan jy sommer sien hy is die kroonprins van die ANC, so self verseker. Hy gaan niks oorkom nie.

carel ·

hoe het hulle saam gesweer – het iemand hom vasgehou en n ander dan drank in sy keel afgegooi?

die fat cats is mos untouchable?

wat se sy bloed alchol vlak? Was hy oor die limiet? indien nie laat hom gaan indien wel straf hom.

En die skelm wat hom verteenwoordig pasop dat jy of jou famielie nie dalk deur n dronk bestuurder beseer of gedood word nie – en onthou dan dat jy skelms soos die verdedig het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.