Sunette Bridges: ‘Ek is hier om te bly’

Sunette Bridges. Foto: Phillip Bruwer

Sunette Bridges. Foto: Phillip Bruwer

“Ek gaan nie my voete in Kanada sit nie, dit is hopeloos te koud daar.” Só het die sanger en aktivis Sunette Bridges Donderdag gereageer op gerugte dat sy na Kanada emigreer.

Bridges (45) het tydens ʼn eksklusiewe onderhoud met Maroela Media gesê al wie binnekort Kanada toe gaan, is haar ma en dié se vriendin, vir ʼn kort vakansie, waarna die twee Alaska toe reis.

“Ek kan wel bevestig dat my twee dogters in Amerika gaan studeer, want ek is nie tevrede met die land se tersiêre instansies nie,” het Bridges gesê.

Haar twee dogters, Ashleigh (20) en Carissa (19), gaan vir ’n jaar by  ’n gemeenskapstechnikon studeer om die nodige krediete te behaal om by die University of North Carolina School of the Arts te gaan studeer in hul hoofvak, kuns.

“Ek gaan oor twee weke saam met hulle oorsee. Dit sal die tweede keer in my lewe wees dat ek Amerika toe gaan. Ek gaan saam met hulle om seker te maak dat hulle hulself vestig en daarna keer ek terug na Suid-Afrika. Dit gaan sowat twee weke wees, dan keer ek terug. Ek het werk hier om te doen. Kleinvallei moet klaar en ek het ook verskeie konserte wat reeds geboek is,” het Bridges verduidelik.

Sy het gesê haar man, Chris Roets, het ook ʼn onderneming in Amerika begin wat oor ʼn jaar gevestig moet wees.

“Ek gaan beslis meer na Amerika reis en hoop dat ons in Desember ʼn wit Kersfees saam met my dogters gaan deurbring, maar ek is lief vir ons land en sal aanhou veg vir Afrikaners se plek hier.”

Sy het gesê haar dogters het beter geleenthede by ʼn oorsese universiteit. “Daar is tans meer politiek in Suid-Afrika se universiteite as akademie. Ek gun my kinders dit nie dat hul klasse ontwrig word weens studente wat ontevrede is dat daar opvoeding in Afrikaans op ʼn kampus aangebied word nie. Ek sien onder meer ook nie kans dat hulle ingesleep moet word by aksies waar groepe aandring om standbeelde by kampusse te verwyder nie,” het sy passievol bygevoeg.

Ashleigh beplan om ná die oorgangsjaar grafiese ontwerp te studeer en Carissa paleontologie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.