Taxi-skietery: ‘Staat het geen bewyse nie’

Argieffoto

Argieffoto

Twaalf mans wat daarvan beskuldig word dat hulle verantwoordelik is vir ʼn skietery by ʼn Durbanse taxistaanplek waarin drie mense dood is, het Vrydag beweer dit sal onregverdig wees om hulle in polisieaanhouding te hou terwyl twaalf ander, wat na bewering ook betrokke was, nie eens aangekla word nie.

Jimmy Howse, die beskuldigdes se regsverteenwoordiger, het in die Durban-landdroshof gesê daar is geen bewyse voor die hof gebring wat bewys sy kliënte was vir die skietery verantwoordelik nie. Die twaalf het aansoek gedoen om op borgtog vrygelaat te word, nadat hulle kort ná die skietery op 16 September in hegtenis geneem is.

Die Zamokuhle- en Sonke langafstandtaxiverenigings het koppe gestamp oor die roete tussen Port Shepstone en Durban. Die twaalf mans beweer hulle is lede van die Berea langafstandtaxivereniging en het niks te doen gehad met Zamokuhle en Sonke se dispuut nie.

Die staat voer egter aan nie een van die mans is amptelik by een van die drie taxiverenigings geregistreer nie en hulle het opgetree om Sonke te verdedig. Twee veiligheidswagte en ʼn omstander is tydens die skietgeveg doodgeskiet.

Die hof het vroeër gehoor 24 mans is in hegtenis geneem, maar 12 van die mans, wat lede van Zamokuhle is, is vrygelaat en nie aangekla nie. Maj. Mandla Michael Dlamini, die ondersoekbeampte, het verlede week gesê dit is nie hy wat besluit het om alle aanklagte teen die ander 12 terug te trek nie. Hy het ook gesê 120 patroondoppies is op die toneel gevind, maar die polisie wag steeds op forensiese bewyse.

Howse het Vrydag gesê daar is geen bewyse wat die Zamokuhle-lede vryspreek nie. “Die vermoedens teen Zamokuhle is geensins minder as die vermoedens teen [my kliënte] nie.” Hy het gesê sy kliënte word onregverdig behandel, aangesien die staat geen bewyse kon lewer dat hulle wel lede van die Sonke-vereniging is nie. Hy het ook gesê die mans kan nie borgtog geweier word bloot oor ʼn algemene vrees vir taxigeweld nie.

Die 12 mans staan tereg op drie aanklagte van moord, twee van poging tot moord en een van openbare geweld.

Die uitspraak van die borgtogverhoor sal op 16 Oktober gelewer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lynette ·

Waarom doen hulle nie direk na arrestasies toetse op die persone se hande wat dan sal bewys of hulle geskuet het of nie. Lyk asof SAP die misdadigers probeer beskerm sodat niemand ooit gevonnis sal word nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.