Tiener sterf na bakkie oor hom ry: maats geweldig getraumatiseerd

John Kuhne. Foto: Facebook

John Kuhne. Foto: Facebook

John Kuhne, die 17-jarige seun van Louis Trichardt in Limpopo wat Dinsdag dood is toe ʼn bakkie oor hom gery het, sal Vrydag veras word.

Maroela Media het vroeër berig Kuhne, ʼn gr. 11-leerling aan die Hoërskool Louis Trichardt, is op ʼn plaas in die omgewing dood toe hy en ʼn paar vriende vermoedelik springhase gaan jag het. Annemarie Kuhne, John se tannie, het aan Maroela Media gesê John het agter op ʼn vierwielmotorfiets gesit en een van sy vriende het bestuur.

“Die motorfiets se ligte het nie gewerk nie en van sy vriende het met die bakkie agter hulle aangery om lig te maak,” het Anne-marie gesê. “John het afgeval toe die motorfiets omgeslaan het en die bakkie het bo-oor hom gery.” John is na ʼn hospitaal in Louis Trichardt gehaas, maar het Dinsdagoggend aan sy beserings beswyk.

Volgens Anne-marie het familie van regoor die land gekom om John se ouers, Michael en Karin en sy suster, Suné, te ondersteun. “Dit gaan onder omstandighede oukei met hulle. Hier is verskriklik baie mense. Karin se broer is hier, my sussie-hulle is hier, al die kinders [wat by die ongeluk betrokke was] se ouers is hier. Hier is heeltyd mense om hulle moed in te praat en te ondersteun.”

John se vriende wat by die ongeluk betrokke was, sal almal berading ontvang, het sy gesê. “Hulle is geweldig getraumatiseerd na wat gebeur het. Dit is vir hulle onbeskryflik sleg.”

Anne-marie het gesê John was ʼn geliefde kind wat mal was oor sport en akademies baie goed presteer het. Hy het ook vir sy skool se eerste hokkiespan uitgedraf. “’n Mens kan net op sy Facebook-blad gaan kyk wat sy vriende daar oor hom skryf om te sien hoe baie hy vir mense beteken het. Daar was so baie mense wat vir hom lief was en almal het van hom gehou.”

ʼn Gedenkdiens sal Vrydag om 14:00 in die NG Kerk Soutpansberg in Louis Trichardt gehou word. Die verassing sal privaat geskied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peet Schabort ·

Die groot hartseer vir die vriende is om verby te kom by vrae sonder antwoorde. Dit is so dat “as ek/ons liewer dit of dat gedoen het” en “sê maar net ek/ons het . . .” dan sou dit nie gebeur het.
Ek vertrou dat julle berusting sal vind in die wete dat God bewus is van julle .
Mag ons ander ook positief leer uit hierdie gebeure.

Mariaan ·

Wat n hartseer storie…ai die lewe is nog een dag sonskyn en die vlg dag is dit donker…baie sterkte aan hierdie familie…dis n lewenslange hartseer “vonnis”…ook aan sy vriende…dis so jammer…mag jul vertroosting vind

Eliza-beth ·

Sterkte aan die ouers. Baie sterkte ook aan die maats – ‘n lelike ongeluk en nou moet hulle daarmee saam probeer leef. Baie, baie erg. Ek dink aan hul almal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.