Twee vas vir omkoopgeld by grensposte

Die R100 000 omkoopgeld. Foto: Verskaf

Die R100 000 omkoopgeld. Foto: Verskaf

Twee mans is vandeesweek in hegtenis geneem nadat hulle in twee aparte voorvalle beamptes van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) met meer as R100 000 wou omkoop om onwettige goedere deur grensposte te laat gaan.

Luther Lebelo, woordvoerder van die SAID, het gesê een van die verdagtes is in hegtenis geneem nadat hy ʼn beampte van SAID se taktiese intervensie-eenheid met R100 000 wou omkoop.

ʼn Vragmotor met ʼn elektriese transformator wou die grens deur die Kopfontein-grenspos in Noordwes oorsteek na Botswana. Teenstrydighede in die dokumentasie wat nodig is om die transformator oor die grens te neem, het SAID-beamptes genoop om die saak na die taktiese intervensie-eenheid verwys vir verdere ondersoek.

Die onwettige goedere waarop die polisie beslag gelê het. Foto: Verskaf

Die onwettige goedere waarop die polisie beslag gelê het. Foto: Verskaf

“Toe ʼn beampte van die taktiese intervensie-eenheid die klaringsagent oor die saak genader het, het di8e agent omkoopgeld aangebied,” het Lebelo gesê. Die R100 000 in kontant was in ʼn sak en versteek onder pakkies Simba-skyfies. Die agent is net daar in hegtenis geneem.

In ʼn soortgelyke voorval is onwettige goedere ter waarde van R5 miljoen Sondag by die Groblersbrug-grenspos in Limpopo gevind, waar dit versteek was in twee houers wat van Zambië af kom. Volgens Lebelo het die goedere meer as 11 000 boksies sigarette, 40 512 buisies gesigroom en 8 000 pakkies voorbehoedmiddels ingesluit.

“Die bestuurder van die voertuig het die doeane-beampte R10 000 aangebied om deur te laat na Suid-Afrika. Die polisie is egter in kennis gestel en die bestuurder is in hegtenis geneem,” het Lebelo gesê. Daar is ook op die vragmotor en die onwettige goedere beslag gelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.