Van beleërde oudburgemeester tot minister

David van Rooyen, minister van finansies (Desember, 2015) Foto: GCIS

David van Rooyen, minister van finansies (Desember, 2015) Foto: GCIS

Alle oë is op die nuwe minister van finansies gerig wat Donderdag in sy pos ingesweer is nadat pres. Jacob Zuma Nhlanhla Nene onverwags verwyder het.

David Douglas Des van Rooyen gaan in die volgende paar weke en maande fyn dopgehou word om te sien of hy enige groot besluite wat deur sy voorganger geneem is, gaan omkeer.

Die twee brandende kwessies is Suid-Afrika se kernkragprogram en die herstrukturering van ʼn ooreenkoms van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) wat vliegtuie wil verhuur vir lugredery wat tans in ʼn verknorsing is.

Maroela Media het vroeër berig Nene het nie toegelaat dat Dudu Miyeni, voorsitter van die raad van die SAL, die ooreenkoms met Airbus mag wysig nie.

David van Rooyen, minister van finansies en pres. Jacob Zuma (Desember, 2015) Foto: GCIS

David van Rooyen, minister van finansies en pres. Jacob Zuma (Desember, 2015) Foto: GCIS

Daar is nie baie inligting beskikbaar oor die man wat met Suid-Afrika se beursie vertrou word nie. Daar is ook teenstrydige inligting waar hy gebore is of hoe oud hy is.

Van Rooyen het in die 1980’s by politiek betrokke geraak en was betrokke by verskeie unies en burgerlike instellings soos die Khutsong Student Congress. Hy was ook ʼn lid van die ANC se militêre vleuel, Umkhonto we Sizwe.

Volgens die People’s Assembly-webwerf het Van Rooyen ʼn reeks kwalifikasies, waaronder ʼn diploma in Gevorderde Besigheidsbestuur, ʼn diploma en sertifikaat in Munisipale Bestuur, ʼn sertifikaat in Raadslidontwikkeling, ʼn sertifikaat in Munisipale Finansies, ʼn sertifikaat in Ekonomie en Openbare Finansies en ʼn meestergraad in Openbare Ontwikkeling en Bestuur wat aan die Universiteit van Londen verwerf is.

Laura Pritsch, woordvoerder van die Universiteit van Londen, het ook bevestig dat hy ʼn M.Sc-graad in Ekonomiese Beleid op 31 Desember 2013 verwerf het nadat hy die kursus deur middel van afstandsonderrig voltooi het.

Volgens die parlement se webwerf het Van Rooyen aandele in drie maatskappye en direkteurskap in drie private maatskappye en twee beslote korporasies.

Die groot vraag is natuurlik of Van Rooyen oor die nodige bestuurs- en finansiële vaardigheid beskik wat in sy nuwe pos van hom vereis gaan word.

Van Rooyen was burgemeester van die Merafong- plaaslike munisipaliteit, totdat hy in 2009 lid van die parlement geword het. Hy was burgemeester in ʼn tyd toe daar sterk teenkanting van inwoners was om dié munisipaliteit by die Noordwes-provinsie in te lyf. Woedende inwoners van Merafong het sy huis in 2006 afgebrand.

Mbhazima (Sam) Shilowa, voormalige premier van Gauteng, het Woensdag op Twitter die volgende oor Van Rooyen te sê gehad: “Ek ken die nuwe minister van finansies. Hy was burgemeester toe ek premier was. Hy was ʼn ramp en is gevolglik twee jaar voordat sy termyn in 2011 sou verstryk, uit sy pos verwyder.”

In die parlement blyk dit dat Van Rooyen grootliks onder die radar beweeg.

Volgens die People’s Assembly-webwerf is hy getrou om vergaderings by te woon. In 2014 het hy 93% van die parlementêre sessies bygewoon en in 2015, altesaam 86%.

Volgens die artikel op die webwerf het die ANC gesê die man aan die stuur van die land se finansies kyk graag gholf, sokker en tennis. Hy lees glo ook graag en hou van jag.

Daar is bykans geen nuusberigte oor hom geskryf oor sy tyd in die parlement voordat Zuma Woensdagaand die aanstelling aangekondig het nie.

Van Rooyen is die land se vyfde minister van finansies in die demokratiese bestel.

Lees ook: Uit die bloute, die nuwe minister van finansies

Lees alle vorige berigte oor David van Rooyen op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

VJG ·

Zuma voer iets in die mou! Ek wag in spanning om te sien watter SAL / Airbus / SA Minister v Finansies skandaal nuus voorblad nuus gaan maak. Dis DejaVu van vooraf met die wereld se enigste president wat tot 1 (eleventyleven) kan tel.

Peet Schabort ·

“Now I demand my fly-machine . . .”
Maroela, verander asb. par. 11 en 12 die ‘burgermeester’.

Sune van Heerden ·

Dagsê Peet

Ons vra om verskoning – die teksversorger het die fout in die opskrif opgemerk, maar nie in die teksgedeelte nie. Ons wysig die berig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Marous ·

Hoe kry jy ‘ meestersgraad met net diplomas en sertifikate???????? @£#@%%#!!!!!

swanna ·

Ek sal ook graag wil weet hoe het hy dit verwerf. Gaan nogal interesant wees.

NEL ·

Die probleem met Nenne was dat hy ‘n stok in die pres se wiele gesteek het deurdat hy nie geld sommer net laat uitgee het nie. Sy salaris sal nog die selfde bly solank hy in die parlement aan bly.Wonder hoeveel ander ongerymdhede is hier wat die media nie van weet nie en so mibruik hulle on swaar verdiende geld.

mara fourie ·

Bring Nene terug. He obviously did he’s work to care for SA finance, no wonder zuma took him out! Nicely done ANC you gave him the power. Less jobs for the country’s youth! You put him there, you take him out!

Justa ·

Nogal n meestersgraad van die Universiteit van London, met die paar sertifikate. Dis seker n grap. Gaan maar sy kwalifikasies na, iewers is daar n slang in die gras.

Alida ·

VJG natuurlik voer Zuma iets in die mou. Hy verduur nie inmenging met sy stelery nie en Nene het ‘n stokkie daarvoor gesteek. Hulle moet ontslae raak van die vrot vis vir SA se behoud.

sarie van heerden ·

Wie dra enige kennis van die Universiteit van Londen?

GES ·

So ver my kennis strek is daar ‘n aanlyn “universiteit” in die VK wat geregistreer is as ‘n universiteit wat grade uitreik op grond van ondervinding en kursusse gedoen. Die betrokke universiteit geniet geen agting nie maar gaan eenvoudig met hulle bedrywighede voort. So 2/3 jaar gelede was daar ‘n persoon met so ‘n gekoopte “PhD” wat as visie kanselier by een van ons universiteite aangestel was
. Hy is egter ontmasker en die trekpas gegee. Maroela kan my direk kontak vir meer inligting, dit bevestig en pubiseer as hulle so voel. Ek dink hier in ons regering is nog ‘n hele paar van hulle met sulke kwalifikasies.

charmaine ·

Wys jou net hulle het verskuilde agenda’s want agter watter boom krap hulle die out uit? Zumpie kry juis hierdie wat “Oorsese kwalifikasies” het want hulle is nie so slim nie en hy speel met hulle soos “puppets on a string”. Niks het nou iets geword nou is hy te dankbaar vir die jobie. Groot huis, groot kar, groot vrou, groot salaris, groot klere baie nando’s en niks gewoond.

Eddie ·

Dit is nie so moeilik om grade te kry nie. Ek het drie grade agter my naam en is baie trorts op dit. Graad 1 Graad 2 en Rugraad. Wat wil jy meer he??????????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.