[Video] Aardklop: Diskoers – Mmusi Maimane oor die Blou Golf

Freek Robinson en Mmusi Maimane by Aardklop 2015 Foto: Maroela Media

Freek Robinson en Mmusi Maimane by Aardklop 2015 Foto: Maroela Media

Die saal was Dinsdagoggend volgepak by die eerste Diskoers-gesprek van die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom waar Freek Robinson die DA-leier, Mmusi Maimane, onder kruisverhoor geplaas het.

Robinson het afgeskop deur Maimane uit te vra oor die party se hantering van die Dianne Kohler-Barnard-debakel. Kohler-Barnard was die afgelope week in die spervuur oor ʼn omstrede inskrywing oor PW Botha op sosiale media.

Maimane het gesê die inskrywing het aanstoot gegee en was verkeerd, en het dit benadruk dat sy party hom nie met Botha vereenselwig nie. “Ek stem egter nie saam met diegene wat sê ek moes sterker opgetree het nie,” het hy bygevoeg. “Indien ek president sou wees, sou ek die besluit geneem het om haar uit die kabinet te verwyder. Dit is presies wat ek in hierdie situasie gedoen het, deur haar onmiddellik na die posisie van adjunk-skaduminister van openbare werke te demoveer. Dit is egter net regverdig om haar eers die geleentheid te gee om tydens ʼn dissiplinêre proses en met regsverteenwoordiging haar kant van die saak te stel.”

Munisipale verkiesings

Oor volgende jaar se munisipale verkiesing het Maimane bevestig dat die DA wel besig is om meer swart stemme te werf, op ʼn vraag van Robinson of hy wel die ‘swart stem’ vir die party kan verseker. “Dit is onrealisties om te dink dat die DA se kiesers slegs uit ʼn spesifieke rasgroep bestaan. Die DA maak groot vordering in die Oos-Kaap, Pretoria, Johannesburg en Potchefstroom en ons wil natuurlik Kaapstad en al die ander munisipaliteite wat ons tans bestuur, behou.”

Afrikaans

Volgens Maimane is dit nie so maklik om met Afrikaans weg te doen as onderrigtaal nie, omdat die grondwet Afrikaans beskerm. “Persone wat Afrikaans as onderrigtaal wil hersien, moet dan ook die grondwet hersien. Die grondwet bepaal dat elke persoon geregtig is op opleiding in die taal van sy keuse, mits dit prakties uitvoerbaar is. Ek moedig universiteite aan om seker te maak hulle bied ook bykomende tale aan. Daar is meer persone van kleur wat Afrikaans praat, as wit persone.”

Eskom

Op ʼn vraag uit die gehoor het Maimane geantwoord Eskom se korttermynoplossing is om van sy aandele te verkoop om die bestaande kontantvloeiprobleem op te los. “Op die langtermyn moet Eskom in verskillende dele verdeel word, sodat dit geprivatiseer kan word en daar kompetisie in die mark kan wees.

“Kernkrag is ook nie die antwoord tot die energiekrisis in Suid-Afrika nie. Suid-Afrika moet krag opwek deur middel van ʼn verskeidenheid van bronne, soos windkrag, sonkrag, kernkrag, steenkool en gas.”

Visumregulasies

Maimane het verduidelik dat hy verlede jaar reeds ʼn gesprek gehad het met Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, oor die omstrede visumregulasies wat kinders betref. “Dit is belangriker om te fokus daarop om ons grense te beheer,” het Maimane gesê. “Kinderhandel vind nie noodwendig by OR Tambo [Internasionale Lughawe] plaas nie. Ek het aan die minister verduidelik dat die wetgewing gelykstaande is aan ekonomiese selfmoord. Die toerismebedryf het nie ʼn aan-/afskakelknoppie nie. Ons kan nie net bloot weer die toerismebedryf ‘aanskakel’ wanneer die skade reeds berokken is nie.”

Koalisieregering

Robinson wou ter afsluiting by Maimane weet of die DA ʼn koalisieregering met die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) sou oorweeg indien dié twee partye tydens volgende jaar se verkiesing in sommige munisipaliteite deur middel van ʼn koalisieregering die ANC kon uitstof. “Ek wil nie iets bespreek voor ons nie voor die besluit te staan kom nie, maar die DA sal slegs ʼn koalisieregering met enige party oorweeg indien dit op die volgende vier beginsels gebaseer is: nie-rassigheid; geen kaderbevoordeling; die Grondwet as fondasie; en ʼn markgedrewe ekonomie.”

Volg die hele reeks Diskoers-gesprekke op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Kaspaas ·

Een ding is verseker na die Diane KB insident het die DA my stem verloor, sy het jammer gese DA word nou n ANC boetie

Loeis ·

Die man probeer hard om blanke stemme te behou. Netwerk24 het gister ‘n artikel geplaas – nie die eerste nie – om sy beeld te poets.

Winston ·

Net n foefie om wit stem te behou, maar ander uitlatings deur veral die EFF en ANC gaan maar net verby, ongeag hoe rassisties dit ook al is? Nog n stem verloor hierdeur dankie. Dianne ons verlang almal terug na orde en dissipline. Nie net jy nie en as elkeen van ons wat so dink demoveer kon word, was 99% van ons geskors!!

neelsie ·

Hoe kan n Afrikaner DA stem?
Dis die ANC met n ander baadjie.
Alles mooi praatjies, die druk van binne sal net te veel wees .

pop ·

Neelsie en niemand anders kan vir n afrikaner se wat hy moet stem nie. Maar een ding weet ek baie goed. Geen ander nasie gaan vir die afrikaner stem nie, en waar los dit ons. n Sand korreltjie in die woestyn.

Loeis ·

Begin die idee van selfbeskikking – wat reeds voor 1994 op die tafel was – nou na ‘n opsie te klink, Poplap?

Dave ·

Ek is nie so seker dat regtig moeite gedoen word om die wit stem te behou nie. Die DA is deur en deur ‘n swart party en die klompie libealiste wat bereid is om vir die DA te stem is net aanhangsels en nie regtig nodig nie.

Bruno Stef ·

n Politikus altans die oorgrote meerderheid van hulle is manteldraaiers en pas sy toespraak aan by die gehoor wat voor hom sit en die spesifieke gemeenskap.Dit bly n moeilike keuse maar bly so naby aan jou gemeenskap/kultuurgroep se behoeftes as jy dan n kruisie moet trek.

Dan ·

Wat bedoel Miamanie dat afrikaans die reg het tot onderrig in taal omdat meer mense behalwe net witmense afrikaans praat? bedoel hy dis al wat saak maak. Soos n verkleurmannetjie!

Pieta ·

Ja Dan, lyk my dat jy maar net soos die ANC en ander lees wat jy graag wil raaksien. Waar in die berig het jy die woord “omdat” gesien? As jy wil spekuleer, is dit jou saak. Maar moenie oor iets kommentaar lewer as jy nie eers jou FEITE regkry nie. Dit geld vir almal in die land wat so graag met negatiwiteit wil skinder, beledig en gal braak, sonder ‘n positiewe inset, wat ons eerder nodig het. Negatiwiteit het nog nooit ‘n saak verbeter nie.

Gwen ·

Aardklop se ware kleure skemer erg deur met die tipe gaste wat aan die Diskoers-gesprekke deelneem. Waarom word geen ander party genooi om soortgelyke gesprekke te voer nie? Ek sal nie my geld mors op enigiets wat met hierdie polities korrekte fees te doen het nie.

Ludwig Myburgh ·

Ek stem volkome saam en dis uiters tragies dat Pretoria FM (Radio Pretoria) deel vorm daarvan aangesien hulle pro DA is!!

Phumba Lani ·

Dalk is hy die enigste swart politieke leier wat ingestem het om deel te neem! Die ANC, EFF, COPE ens. het te veel geraamtes om so ‘n on-hersiende gesprek te voer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.