Skokkende kringtelevisiebeeldmateriaal het Vrydag aan die lig gekom van ʼn gewapende roof waartydens ʼn Johannesburgse metropolisiebeampte by Junction Mall in Rosettenville doodgeskiet is.
Fourways Review het berig die beeldmateriaal is aan hulle verskaf.
Maroela Media het vroeër berig die beampte is Maandag tydens die gewapende roof doodgeskiet.
Hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die metropolisie, het gesê die 60-jarige beampte is omstreeks 15:00 noodlottig gewond toe hy op die rooftog afgekom het.
Die beampte was op pad na die Pick n Pay toe hy die groep verdagtes met ʼn geldboks opgemerk het. Hy het met een van die verdagtes begin stoei. Nóg ʼn verdagte kom agter die pilaar te voorskyn, uit die roltrap se rigting, en skiet die beampte. Hy het op die grond geval en is daarna nog twee keer in die bolyf geskiet. Hy is op die toneel dood verklaar.
In die video wil dit voorkom of die verdagtes ʼn vloeistof in die geldboks gooi. Die geldboks het ʼn rooi kleursel afgegee terwyl hulle weghardloop.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
WAARSKUWING: Die beeldmateriaal kan sensitiewe kykers ontstel.