[Video] Plaaslike flieks – hier kom ʼn ding

sink-poster

Sink. Foto: Facebook

As dit kom by plaaslike rolprente moes Suid-Afrikaanse gehore lank tevrede wees met dolle klugte, oftewel slapstick comedies. Nou en dan was almal verheug om ʼn Katinka Heyns-rolprent te sien. Ná die kykNET Silwerskermfees verlede week in Kampsbaai, Kaapstad, is dit duidelik dat daai era finaal verby is.

Tydens die fees is agt nuwe vollengtefilms vertoon – onder meer ʼn Man soos my Pa, Dis ek, Anna, Sink en ʼn Pawpaw vir my Darling – almal flieks van uitstekende gehalte.

Met ’n Man soos my Pa en ʼn Pawpaw vir my Darling is die legendariese Sandra Prinsloo weer vir die eerste keer in ʼn lang tyd op die grootskerm te sien in twee baie uiteenlopende rolle. Dis ek, Anna spreek nie net die baie belangrike tema van kindermolestering aan nie, maar is ʼn fliek van internasionale gehalte. So ook is Sink nie net van die boonste rak nie, maar ook ʼn fliek wat gereed staan vir internasionale toekennings.

Buiten al die vollengtefilms wat enige fliekvlooi opgewonde sal maak, bied die kortfilms wat tydens die fees vertoon is ons plaaslike rolprentbedryf baie hoop.

Die kortfilms gee filmmakers die geleentheid om sonder terughou ʼn fliek te maak, te eksperimenteer met nuwe temas en genres en ons gehoor stelselmatig daaraan bloot te stel soos Marcel van Heerden se Vryslag en Skewe Reënboog met Gavin van den Berg.

ʼn Kortfilm soos Foto bewys dat ons gereed is om fantasierolprente en rillers aan te pak terwyl die aweregse KonnekSIES en Van lyn af dit duidelik maak dat ons gehore nie meer kans sien vir vulgêre grappe en voorspelbare romantiese en stereotiepe komedies nie (hoewel daar ook ʼn tyd en plek daarvoor is).

Boonop gee die kortfilms akteurs die geleentheid om rolle te vertolk wat miskien een keer elke paar jaar oor hul pad kom. Martelize Kolver is meestal bekend vir haar rol in die improvisasiereeks Proesstraat, maar tydens die fees het sy die hoofrol vertolk in die slim en skreeusnaakse kortfilm Van lyn af en ook weggestap met die toekenning vir beste aktrise in ʼn kortfilm.

Antoinette Louw wat ook haar staal in ’n Man soos my Pa wys, het ʼn hoendervleis-vertolking gegee van die antagonis in die kortfilm Foto.

Die meeste van die kortfilms is van so ’n hoë standaard dat dit lyk asof dit net ʼn 20 minute lange greep uit ʼn vollengte-rolprent is en kan meeding met ʼn hele paar internasionale rolprente. Die meeste rolprentmakers het ook nie noodwendig daarop gefokus om tradisioneel “Afrikaanse rolprente” te maak nie, maar eerder stories te vertel waarmee almal kan identifiseer.

Vanjaar se Silwerskermfees is duidelik ʼn bewys dat daar groot dinge op pad is vir ons plaaslike rolprentbedryf.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

HEVW ·

Bly om te verneem dat iets van gehalte na vore kom.
Het kort gelede Treurgrond gesien, maar was teleurgesteld. Hier is n tema wat selfs die formaat en gewildheid van” Gone with the wind” kon oorskry maar alles behalwe dit. Miskien is dit omdat dit in n te kort tyd en onder groot druk vervaardig.

Susan ·

Wanneer en waar word die “kortfilms” vertoon????? Kan nie wag om dit te gaan kyk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.