Vrede-plaasaanval: ‘Volgende 72 uur van kritieke belang’

Argieffoto: Reint Dykema

Argieffoto: Reint Dykema

ʼn 36-jarige man is in hegtenis geneem op aanklag van poging tot moord weens Sondag se aanval op Johannes (70) en Rita (68) Kritzinger van die plaas, Brakdam, naby Vrede in die Vrystaat.

Konst. Maselela Langa, polisiewoordvoerder, het Maandag aan Maroela Media gesê twee verdagtes het na bewering helder oordag die egpaar by hul huis ingewag, nadat hulle by die kerk was.

“Die twee verdagtes het by die huis ingebreek en in die huis vir die egpaar gewag. Hulle het dadelik skote op die egpaar geskiet en albei gewond. Me. Kritzinger is ook geslaan en aan meubels in die eetkamer vasgebind,” het Langa gesê.

Die aanvallers het aangedring op die sleutels van die kluis, maar op die vlug geslaan toe Johannes dit kon regkry om by die noodknoppie uit te kom, wat ook die alarm in die huis laat afgaan wanneer dit geaktiveer word. Rita kon die eerste mense op die toneel inlig dat sy wel een aanvaller as ʼn voormalige werknemer herken het.

Die verdagtes het glo van die toneel gevlug met ʼn .38-rewolwer, ʼn selfoon en ʼn onbekende hoeveelheid kontant.

Die polisie het hand-aan-hand met boere van die omgewing gewerk om na die verdagtes te soek nadat inligting ontvang is dat een van die verdagtes glo ʼn voormalige plaaswerker is. “Die verdagte is Sondagaand tussen 19:00 en 20:00 in Vrede in hegtenis geneem. Van die slagoffers se gesteelde goedere is in sy besit gevind.”

Langa het gesê die verdagte sal binnekort in die Vrede-streekshof te verskyn. Die polisie is steeds op soek na die ander verdagte. Die egpaar word in die intensiewe sorgeenheid van die Unie-hospitaal in Alberton behandel.

Ds. Ruan Combrink, wat namens die Kritzinger-familie kommentaar lewer, het aan Maroela Media gesê die Kritzinger-egpaar se toestand is steeds kritiek en hulle is nie buite gevaar nie.

“Mnr. Kritzinger het twee skietwonde in die kop opgedoen wat deur ʼn neurochirurg ondersoek sal word,” het Combrink gesê. “Skietwonde in sy bors en buik het ook skade aan verskeie organe aangerig wat deur ʼn chirurg geheg is. Mev. Kritzinger het ʼn skietwond in die bors opgedoen wat ʼn rib gebreek en ʼn long geperforeer het en twee wonde aan die kop, maar dit is onseker of albei skietwonde is. Haar wonde is behandel en sy is in stabiele, maar steeds kritieke toestand. Vir beide sal die volgende 72 uur van kritieke belang wees.”

Combrink het gesê die familie wil graag hul dank uitspreek teenoor elkeen wat gehelp het en ondersteuning gebied het in hierdie moeilike tyd. “Die hulp en gebede van vriende, familie, die gemeenskap en gemeentelede word opreg waardeer.”

Intussen het die Vryheidsfront Plus Maandag die aanval op die Kritzingers ten sterkste veroordeel. Jan van Niekerk, provinsiale leier van die VF Plus in die Vrystaat, wat self in die omgewing boer, het gesê bykans ʼn honderd boere het Sondagmiddag verbete gesoek na die aanvallers. “Die feit dat boere so vinnig en in groot getalle reageer, is ʼn bewys dat hulle nou keelvol is om deur misdadigers mishandel, verkrag en vermoor te word,” het hy gesê.

Van Niekerk het sy dank teenoor die gemeenskap en plaaslike polisie vir hul vinnige optrede uitgespreek. “Die honde-eenheid het egter eers drie ure ná die aanval op die toneel aangekom. Dit getuig van die feit dat plaasmoorde- en aanvalle as prioriteitsmisdaad verklaar moet word sodat eenhede vinniger kan reageer. Vinniger optrede sal verseker dat hierdie booswigte vinniger aangekeer en sodoende afgeskrik word,” het hy in ʼn verklaring gesê.

Hy het gesê die VF Plus sal aanhou om hierdie kritieke situasie onder die wêreld se aandag te bring en die regering dwing om boere te beveilig. Die VF Plus het verlede week tydens UNPO se algemene kongres ʼn resolusie oor plaasmoorde ingedien wat deur UNPO aanvaar is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

CHRISTA ·

Kan ons boeregemeenskap nie weer perdekommando’s stig soos in die verlede nie? Ek dink dit sal help om hulle te beveilig. Perde kan ook makliker en vinniger oor areas beweeg waar daar nie behoorlike paaie is nie. Hulle kan selfs kortpad deur die veld beweeg wanneer hulle misdadigers agterna sit.

Des jelliman ·

Die polisie moet weer soos in di ou tyd pkaas patrollies begin doen toe was da feitlik geen sulke probleme ni maar nouja verkeerde bestuurs lede aan bewind

Elize Louw ·

Ons plaasmense word gemartel, gebrand, geskiet en vermoor. Ek dink baie dae daaraan as my ouers, ooms en tannies nog gelewe het en geboer het was hulle beslis nou al vermoor. Nêrens in die wêreld gebeur dit dat boere so uitgemoor word nie. Almal lewe in vrees. Ons kleinkinders kan nie buite speel nie, wat se lewe is dit? Baie sterkte aan die Kritzinger familie.

pop ·

As al die wagte wat vir Zuma oppas nou gebruik kon word vir plase ne.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.