Anti-bende-vergadering in Bonteheuwel beplan

Argieffoto (Foto: thesouthafrican.com)

Argieffoto (Foto: thesouthafrican.com)

Inwoners van Bonteheuwel vergader Saterdag in Freedom Square in die hartjie van die Kaapse Vlakte met owerhede oor hoe om bendegeweld en skietgevegte te voorkom.

“Die polisie, metropolisie, wetstoepassers, die departement van korrektiewe dienste en die Nasionale Vervolgingsgesag sal na verwagting die openbare vergadering om 15:00 bywoon,” het Judy Kennedy, voorsitter van die gesamentlike vredesforum, gesê.

Kennedy het aan News24 gesê alhoewel die bendegeweld nie naastenby so erg is soos die chaos verlede jaar in die gebied nie, is die doel van die gesprek om seker te maak dat soortgelyke vlakke van geweld nie weer beleef word nie. “Die doel van die vergadering is om te bepaal of daar ʼn plan is en wat dit behels,” het Kennedy gesê. “Ons wil nie weer dieselfde deuntjie hoor wanneer hierdie vrae gevra word nie. Ons wil oplossings hê waar ons ʼn uitslag kan sien.”

Sy het bygevoeg dat, alhoewel die forum se mandaat is om oplossings vir die bende- en misdaadgeteisterde Bonteheuwel te soek, het Saterdag se vergadering ook ten doel om oplossings te soek vir gemeenskappe dwarsoor die Kaapse Vlakte. “Ons realiteit is dat mense sterf. Ons moet volhoubare oplossings kry en ʼn vermeerdering van polisiehulpbronne moet geprioritiseer word.”

Sy het gesê hulle stel nie belang in partypolitiek of politici wat dit as ʼn verhoog wil gebruik vir hul eie veldtogte nie. “Ons wil praat oor hoe ons antwoorde kan kry vir die probleme wat ons daagliks teister.”

Intussen het die polisie as deel van Operasie Fiela Vrydagoggend op Bonteheuwel en Bishop Lavis toegeslaan en beslag gelê op ammunisie en dwelmmiddels. Altesaam 21 verdagtes is in hegtenis geneem, het kapt. FC van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, gesê.

Bron: Tammy Petersen, News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.