DA wil Koeberg-kontrak sien

Koeberg-kernkragstasie

Koeberg-kernkragstasie

Die DA het Dinsdag geëis om al die dokumente te sien wat verband hou met Eskom se toekenning van ʼn tender ter waarde van R4 miljard om stoomkragopwekkers by Koeberg-kernkragstasie te vervang.

DA-LP Gordon Mackay het gesê berigte oor ʼn “sterk politieke inmenging” in die toekenning van die kontrak is “kommerwekkend”. Hy het gesê dit is uiters onreëlmatig.

“Mediaberigte skep die indruk dat die minister van openbare ondernemings moontlik doelbewus mislei is deur senior lede van Eskom se raad van direkteure om die kontrak toe te ken in teenstelling met die aanbevelings van Eskom se tegniese span,” het Mackay bygevoeg.

Hy het versoek dat Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, al die dokumente wat met die tender verband hou, aan die Demokratiese Alliansie beskikbaar sal stel. Dié dokumente sluit die besluit van ʼn tegniese span oor die tender, die bevindings van die tegniese verslag en alle ander dokumente wat met die tender verband hou, in.

Indien die dokumente nie beskikbaar gestel word nie, sal die party ʼn aansoek onder die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) indien.

Eskom se raad van direkteure het verlede maand aangekondig dat hy die kontrak aan die Franse maatskappy, Areva NP Proprietary toegeken het. Die nuwe kragopwekkers behoort teen 2018 geïnstalleer te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.