Departement moet skole se taalbeleid in ag neem, sê hof

Argieffoto

Argieffoto

Die Gautengse departement van onderwys moet skole se taal- en toelatingsbeleid in ag neem wanneer daar oor die toelating van leerlinge vir 2016 besluit word, het ʼn hofbevel beslis.

Regter Gregory Wright het Dinsdag in die hooggeregshof in Johannesburg gesê skole is geregtig om ʼn waglys A en B vir leerlinge op te stel deur die toelatings- en taalbeleid in ag te neem. “Die distriksdirekteur en hoof van die departement moet wanneer die lyste opgestel word, saam met ander relevante en wettige oorwegings, die skool se toelatings- en taalbeleid in ag neem.”

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het ʼn dringende hofaansoek ingedien om die departement se gesentraliseerde toelatingsproses en sy plan om enkelmediumskole na parallelmediumskole oor te skakel, te keer. Fedsas het gesê hierdie planne sal onwettig inmeng met die magte van die skole se beheerliggame om die onderrigtaal en die skool se toelatingsbeleid te bepaal.

Wright het gesê sy bevel sal staan hangende die finale bepaling van “deel B” van die aansoek, wat te doen het met die plan om skole oor te skakel, en wat later aangehoor sal word. “Die kwessie van kostes word voorbehou vir bepaling deur die hof wat deel B aanhoor.”

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het onlangs planne aangekondig om 124 enkelmediumskole na parallelmediumskole oor te skakel. ʼn Lys van skole wat later gelek is, het getoon die plan is grootliks op Afrikaanse enkelmediumskole van toepassing.

Greta Engelbrecht, woordvoerder vir Fedsas, het ná die hofbeslissing gesê die departement sal nie net skole se beleid in ag moet neem nie, maar ook ander oorwegings soos die nasionale taalbeleid en die grondwet. “Die hof sal in die toekoms aanhoor of die besluit om enkelmediumskole in parallelmediumskole te omskep wettig was.”

Phumla Sekonyane, woordvoerder vir die Gautengse departement van onderwys, het gesê die departement is ongelukkig met die hofbevel. “Dit beteken dat skole se taal- en toelatingsbeleid die reg tot onderwys oorheers,” het sy gesê. “Ons sal appèl aanteken.”

‘Fedsas net besorg oor Afrikaanse leerlinge’

Die departement het vroeër aan die hof gesê die plan om enkelmediumskole na parallelmediumskole om te skakel, is nog nie geïmplementeer nie. “Ons argumenteer dat daar absoluut geen besluit geneem is wat tot administratiewe aksie gelei het nie,” het Muzi Sikhakhane SC vir die departement en Lesufi gesê.

Volgens Sikhakhane het die departement herhaaldelik gesê die lys van skole het gespruit uit ʼn interne besprekingdokument om die probleme in Gauteng te bespreek. “Ons is op ʼn dringende basis hierheen gebring deur ʼn vrees wat hoegenaamd geen basis het nie. Daar is nog geen besluit geneem [oor die oorskakeling van skole] nie.”

“Die aansoekers is slegs besorg oor leerders wat Afrikaans praat. Die departement moet op almal fokus. Die voorskrifte van skole moet strook met die verspreiding van hulpbronne.”

Sikhakhane het gesê in terme van toelating tot skole het Fedsas die fout gemaak om nie die skool, die departement se distriksdirekteurs en die hoof van die departement as “deel van dieselfde lyn” te sien nie. “Die Skolewet stel dit duidelik dat die funksie van toelating ʼn proses van die HOD is – enigiemand wat dit doen, selfs die skoolhoofde, doen dit omdat hulle ʼn verlenging van daardie statutêre funksie is,” het hy gesê.

Wright het aan Johan du Toit SC, vir Fedsas, gevra of die departement se beleid om die hulpbronne van “die paar bevoorregtes in die verlede” eweredig na almal te versprei in lyn met die grondwet sal wees. Du Toit het geantwoord hoewel dit prysenswaardig sal wees, behoort die skool se bates aan die skool. “Iemand kan nie van buite kom en die skool se bates neem en dit aan ander gee nie,” het hy gesê.

Wright het toe gevra, “Jy sê dit is prysenswaardig. Beteken dit jy sê dit is grondwetlik? Dit kan nie prysenswaardig wees en nié grondwetlik nie. As die applikant se skoolbeleid – met of sonder bedoeling – die effek het dat die pas waarteen hulpbronne versprei word vertraag, is [die beleid] grondwetlik?”

“Hulle is grondwetlik,” het Du Toit geantwoord.

News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

chris ·

Brand skole af ,sluit onderwys kolleges , stop moedertaalonderig,verengels alles skole en universiteite,nou sit ons met swak onderwys hoe is dit tog moontlik?
Die mense het regtigwaar geen verstand nie

chris van heerden ·

Ek wonder hoeveel ander lande is daar in die wereld waar die publiek die regering telkens moet hof toe vat om hul regte te beskerm.

Henrietta Klaasing ·

Lesufi en sy trawante se volgende stap gaan wees om die getal leerlinge aan te vat. Volgens hulle gaan toegang ( in dien daar nog plek is) BO taal en toegangsbeleid. Kulture verskil oor wanneer ‘n klas / skool “vol” is. Sibusisu Benghu , oud-minister van onderwys, se getal-leerlinge-per-klas wreek sig nog steeds op die stelsel. Dit is daarom dat model C skole beheerliggame poste skep ( ten DUURSTE!!) juis om minder leerlinge per klas te hê om optimum leertoestande te hê.

Kobus Esterhuizen ·

Waarom gebruik organisasies soos Fedsas en Afriforum altyd sulke halfhartige regslui wat nie in hulle eie sake glo nie? Wat sal prysenswaardig wees daarvan om Afrikaanse kinders te ontneem op hulle regte tot moedertaal onderrig? Is die hele bevolking nou so geindoktrineer met kulturele marxisme dat hulle net handewringend om verskoning moet vra.

CHRISTA ·

Ek sê weer: hulle sal kinders net volgens taalgroepe in klasse moet indeel (soos in die verlede) en dan moet hulle nie kla as die Afrikaanse klasse meesal wit is nie!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.