Dieselpyp gebars: Greenpeace monitor skoonmaakoperasie

Argieffoto

Argieffoto

Greenpeace, een van die grootste omgewingsorganisasies in die wêreld, monitor die skoonmaakoperasie van gebiede wat geraak word nadat diesel in Durban uitgelek het.

“Greenpeace Africa hou die situasie dop om seker te maak dat die betrokke gebiede doeltreffend en vinnig skoongemaak word,” het Mbong Akiy, woordvoerder van Greenpeace, in ʼn verklaring gesê.

Sy het reageer op berigte dat ʼn pyplyn tussen Durban en Johannesburg in ʼn gegoede meenthuiskompleks in Durban vroeg Dinsdagoggend gebars het. Altesaam 200 000 liter het by die Greenvale Village-kompleks uitgelek, het die Daily News Woensdag berig.

Die pyplyn is afgesny en Saret Knoetze, woordvoerder van Transnet Pipelines, het glo gesê ʼn herstelspan en omgewingsimpakstudiespan is reeds uitgestuur. Die waarde van die diesel wat verlore gegaan het word bereken op R2.4 miljoen en die skoonmaakoperasie sal ook miljoene kos.

“Die negatiewe impak van so vermorsing op mense en die omgewing is onmeetbaar,” het Akiy bygevoeg. “Ons dink aan almal wat deur hierdie yslike dieselgemors geraak word.”

Sy het gesê die vermorsing is ʼn aanduiding van die gevare wat met vuil fossielbrandstowwe gepaard gaan en die beperkings weens Eskom se afhanklikheid van diesel om gasturbines te laat werk tydens die huidige elektrisiteitskrisis. “Suid-Afrika se regering moet nou optree om ʼn skoon en volhoubare toekoms vir sy inwoners te verseker. Dit is slegs moontlik deur ʼn aktiewe belegging in skoon hernubare energie.”

Lees alle vorige berigte oor die dieselpyp op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.