Dink voor jy stem, vra Tutu

Emeritus aartsbiskop Desmond Tutu Woensdag by die St George’s-katedraal in Kaapstad. Foto: Nardus Engelbrecht / SAPA

Emeritus aartsbiskop Desmond Tutu Woensdag by die St George’s-katedraal in Kaapstad. Foto: Nardus Engelbrecht / SAPA

Emeritus aartsbiskop Desmond Tutu het Woensdag kiesers gemaan om noukeurig te oorweeg vir watter party hulle op 7 Mei gaan stem.

“Moenie stem-skape wees nie. Dink voor jy daai kruisie trek,” het Tutu tydens ʼn perskonferensie by die St George’s-katedraal in Kaapstad gesê waartydens hy ook sy mening gelug het oor die afgelope 20 jaar van demokrasie in Suid-Afrika.

Tutu het gesê hy ondersteun nie die “Stem Nee”-veldtog nie, maar bygevoeg dat dié veldtog wel ʼn oproer veroorsaak. Ronnie Kasrils, voormalige lid van die ANC en SAKP, en Nozizwe Madlala-Routledge, voormalige adjunkminister van gesondheid, het vroeër die maand met dié veldtog begin om struggle-aktiviste en ander Suid-Afrikaners te oorreed om óf nie vir die ANC te stem nie óf hul stembriewe te bederf.

“Die veldtog wys dat daar mense is wat bekommerd is oor watter rigting die land inslaan,” het Tutu gesê.

Hy is steeds negatief teenoor die ANC, en ondersteun nie meer die party se leierskap soos wat hy, tydens die eerste verkiesing waaraan hy deelgeneem het, op 27 April 1994 gedoen het nie.

Tutu het bevestig hy glo steeds dat Suid-Afrikaners een dag vir die ondergang van die ANC sal bid, soos wat hy in 2011 gesê het nadat die regering nie ʼn visum aan die Dalai Lama wou uitreik om die land te besoek nie.

Tutu het bygevoeg daar is egter baie dinge waarvoor die land die ANC moet bedank, soos dat meer mense toegang het tot skoon water, elektrisiteit en maatskaplike toelaes.

Hy het bevestig hy gaan stem, maar het laggend gesê dat hy nie bekend gaan maak vir watter party hy gaan stem nie. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Trippie ·

Glo my Toetoe, ek bid daagliks vir die ANC en die EFF se ondergang.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.