Don Steenkamp na ander tronk geskuif

Don Steenkamp wat sy ouers en sussie op 6 April 2012 op hul plaas Naauwhoek in Griekwastad doodgeskiet het

Don Steenkamp wat sy ouers en sussie op 6 April 2012 op hul plaas Naauwhoek in Griekwastad doodgeskiet het

Don Steenkamp (18), wat tronkstraf uitdien vir die moord op sy ouers en suster, is na ʼn ander gevangenis oorgeplaas.

Grace Molatedi, adjunkkommissaris van die departement van korrektiewe dienste in die Vrystaat en Noord-Kaap, het aan Maroela Media gesê Steenkamp is van die Kimberley-gevangenis na ʼn ander gevangenis “in die streek” oorgeplaas.

RSG het berig dat Steenkamp na die Groenpunt-gevangenis in Vereeniging oorgeplaas is. Molatedi kon dit nie bevestig nie. Volgens Molatedi is Steenkamp na ʼn ander gevangenis oorgeplaas, aangesien hy ʼn “maksimum kategorie oortreder” is en die Kimberley-gevangenis nie voorsiening maak vir dié kategorie oortreders nie.

Daar is in November berig dat Steenkamp reëls by die Kimberley-gevangenis verontagsaam het. Hy het glo meer telefoonoproepe gemaak as waarop hy geregtig was en het glo wegneemkos na sy sel geneem. Molatedi het gesê die ondersoek na dié bewerings is afgehandel en daar is bevind dat Steenkamp geen oortredings begaan het nie.

Steenkamp dien 20 jaar tronkstraf uit nadat hy sy ouers Deon en Christel en suster Marthella op 6 April 2012 op hul plaas Naauwhoek in Griekwastad doodgeskiet het. Hy het ook sy suster verkrag.

Sy appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis word op 9 Maart in die Noord-Kaapse hooggeregshof aangehoor.

Klik hier vir vorige berigte oor die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Chris van Heerden ·

Molatedi het gesê die ondersoek na dié bewerings is afgehandel en daar is bevind dat Steenkamp geen oortredings begaan het nie maar steeds het n joernalis besluit om die inligting die wereld in te stuur sodat die ou se saak bemoeilik kan word. Dit is seker ook hoekom hy dan nou oorgeplaas is na n ander gevangenis toe.

Otto Skorzeny ·

Sodat “die ou” se saak bemoeilik kan word? Nou hoe word hierdie moordenaar van sy ouers en sussie se saak daardeur benadeel? Gevangenes word dikwels na ander “korrektiewe sentrums” (voorheen bekend as gevangenisse) geskuif weens geriewe wat nie by die vorige plek beskikbaar is nie. Hy kan bly wees hy is nie na daardie maksimum-sentrums naby Bloemfontein of Louis Trichardt geskuif nie. Sy skuldigbevinding aan die verkragting mag dalk tersydegestel word, maar op die moorde sal dit bekragtig word. Hy is tipies van hierdie groeiende geslag jonges wat ons al hoe meer sien en van hoor – wat net nie verantwoordelikheid vir hulle dade kan aanvaar nie, al is die bewyse hoe sterk. “Ek wou nie die sneller trek nie, ek wou niemand skiet nie, die pistool het vanself afgegaan”, klink dit bekend?

pop ·

Ek dink nog al die tyd daars n storie wat ons asems sal wegslaan hier. Feit is, die seun praat nie. Dis baie ver weg gebere. En Ouma weet, daarom dat sy hom so bystaan.

Sollie ·

Pop – stem 10000% saam. Hier is baie ander faktore waarvan ons nie bewus is nie.

Nico ·

Ek verstaan iets nie en wil graag hê iemand met regskennis moet vir my verduidelik. Ek was van menig dat as ‘n saak onder appel is hy nog nie sy vonnis hoef uit te dien nie. Is ek verkeerd? Of is sy aanhouding as gevolg van borgtog wat geweier is? Ek verstaan nie.

Marge ·

Ek het Jacques Steenkamp se boek gelees en al het die boek geeindig waar almal die laaste hofsitting verlaat het nadat uitspraak gelewer is, voel dit vir my of ek n boek met geen slot of einde gelees het. Ek stem saam met Solly en pop. Volgens die meerderheid het geregtigheid geskied en Don is skuldig MAAR hoekom het sy oupa tot sy laaste sent spandeer vir Don se verdediging en die Heckroodts en ander Steenkamps wat hom so ondersteun en bygestaan het. Don was iewers in die lewe verontreg en sy stilswye is om iemand se “goeie” naam te beskerm. Die volle waarheid sal seevier soos altyd….al is dit eers oor 20 jaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.