Dramat kan nie terugkeer werk toe nie

Lt.Genl. Anwa Dramat Foto: Diana Neille, ENCA

Lt.Genl. Anwa Dramat Foto: Diana Neille, ENCA

Anwa Dramat, hoof van die Valke, kan Maandag nie terugkeer werk toe nie, aangesien die polisieminister Nkosinathi Nhleko appèl aangeteken het teen die hof se besluit om sy skorsing onwettig te verklaar en terstond omgekeer het.

“Omdat ons die appèl ingedien het, volstaan ons met die status quo; hy is dus steeds geskors,” het Musa Zondi, woordvoerder van die ministerie van polisie, gesê.

Dramat sal eers kan terugkeer werk toe ná die appèl aangehoor is en hangende die uitslag van die appèlaansoek.

Die aansoek om appèl is Vrydag ingedien, nadat Dramat se skorsing “onwettig en ongeldig” verklaar is in die Pretoriase hooggeregshof.

Regter Bill Prinsloo het beslis dat Nhleko se besluit om genl.maj. Berning Ntlemeza as waarnemende hoof van die Valke aan te stel, ook onwettig en ongeldig was.

Die Helen Suzman-stigting (HSF) het die hof genader en versoek om Nhleko se besluit om Dramat te skors en Ntlemeza gevolglik aan te stel, tersyde te stel.

Dramat is op 23 Desember 2014 geskors hangende ʼn ondersoek oor sy beweerde betrokkenheid in die onwettige uitlewering van vier Zimbabwiërs in November 2010. Die HSF hou vol die bewoording van die Suid-Afrikaanse Polisiewet, waarvolgens Nhleko sy besluit gemaak het, is deur die grondwetlike hof geskrap en Dramat se skorsing is dus ongeldig. Prinsloo het Nhleko beveel om HSF se regskoste te betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.