Dramat-skorsing was wettig, sê Nhleko

Lt.Genl. Anwa Dramat Foto: Diana Neille, ENCA

Lt.Genl. Anwa Dramat Foto: Diana Neille, ENCA

Nkosinathi Nhleko, die minister van polisie, hou vol hy het binne die wet opgetree toe hy lt.genl. Anwa Dramat, hoof van die Valke, geskors het.

Nhleko het Donderdag tydens die parlement se beleidsportefeuljekomitee oor die saak aan LP’s gesê hy was genoodsaak om op te tree nadat hy ʼn verslag oor die onwettige uitlewering van Zimbawiërs ontvang het. “Toe ek my pligte opgeneem het, is ek oorval deur lêers vol beweerde wangedrag, korrupsie en gruweldade binne die Suid-Afrikaanse Polisiediens,” het Nhleko gesê. “As die minister van die polisie kon ek nie sulke bewerings ignoreer nie.”

Hy het gesê van hierdie bewerings sluit in die saak oor die Zimbabwiërs wat gedeporteer is, waarvan twee glo in polisie-aanhouding in Zimbabwe gesterf het. Ander persone het verdwyn.

Nhleko het gesê ʼn vertroulike verslag deur die Onafhanklike Polisieondersoek-direktoraat (Opod) het die Valke in die middel van hierdie saak geplaas. “Die bewerings in getuie-dokumente en die Opod-verslag en ander dokumente, wat nie in hierdie stadium bekend gemaak kan word nie, plaas die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoek en sy hoof in die middel van hierdie beweerde onwettige uitlewering.”

Hy het gesê die kwessie handel oor menseregte. “Dit handel oor die oortredings van hierdie menseregte wat in ons naam en die naam van die staat uitgevoer word,” het Nhleko gesê.

Hy het Dramat gevolglik op 23 Desember met volle betaling en voordele geskors. Hy hou vol hy het binne sy magte en die wet opgetree. Hy het bewerings van politieke partydigheid verwerp.

Die Noord-Gautengse hooggeregshof het verlede week beslis dat Nhleko se besluit om Dramat te skors, onwettig en ongeldig was en dat dit tersyde gestel moet word. Regter Bill Prinsloo het Vrydag beslis dat Nhleko nie kragtens wetgewing by magte was om die hoof van die Valke te skors nie. Die Helen Suzman-stigting het die aansoek gebring om die skorsing teen te staan.

Na die regter se uitspraak het Nhleko dadelik ʼn aansoek gebring om appèl aan te teken teen die hooggeregshof se besluit.

Helen Zille, leier van die Demokratiese Alliansie, het aangevoer dat Dramat se skorsing polities gemotiveerd is. Die presidensie het dit ten sterkste ontken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

ladybug ·

jammer hy het nie die hele lot teruggestuur en die grenspos gesluit nie! Hy word geskors omdat hy sy werk doen en dit REG doen, werk mos so in die polisie. As jy droogmaak kom jy weg daarmee maar behoed jou as jy jou werk doen en dit REG doen dan sit jy waar Dramat sit, in tamatiestraat!

Die gety moet draai in hierdie land en BITTER BITTER vinnig ook, want as die gemeenskappe self reg in eie hande gaan neem, gaan jy chaos sien, en die ANC se gemors wat hul aanjaag, sal ‘n vulletjie wees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.