Eerlike man veroorsaak opskudding op sosiale media

Hans Van de Haar. Foto: Facebook

Hans Van de Haar. Foto: Facebook

ʼn Afgetrede sakeman van Port Elizabeth se eerlikheid het ʼn opskudding op sosiale media veroorsaak nadat hy op ʼn groot bedrag geld afgekom het en nou die ware eienaar probeer opspoor.

Hans van de Haar (57) het aan Maroela Media vertel dat hy die afgelope naweek verby ʼn OTM-masjien in ʼn winkelsentrum in Walmer gestap het toe hy ʼn biep-geluid gehoor het. “Dit het omtrent geklink asof ek in ʼn casino is toe ek die geluid hoor,” het Van de Haar gelag. Hy het tot sy verbasing ʼn groot bedrag geld by die OTM sien uitsteek.

“Ek het by myself gedink, nou wat nou? Daar was geen mens in sig nie, geen kaart nie en geen inligting op die skerm nie. Ek het vir ʼn oomblik gedink dat dit vandag my gelukkige dag is, maar toe dink ek ʼn mens maak mos nie so nie. Dit is nie my geld nie,” het hy gesê.

Nadat hy ʼn ruk by die OTM gewag het om te sien of die eienaar nie dalk sy of haar verskyning maak nie, het Van de Haar die geld saam met hom geneem. Om te verhoed dat kansvatters moontlik probeer om die geld op te eis, wou hy nie die spesifieke bank, winkelsentrum, dag of bedrag noem nie, maar hy het gesê die geld was “’n hele paar duisend rand”.

Van de Haar het op sy Facebook-profiel en ander Facebook-bladsye van sy vonds vertel en gevra dat die eienaar hom kontak om die geld op te eis. Hy het ook die betrokke bank gekontak, wat die saak aan hul OTM-divisie oorhandig het en nou deur hul rekords sal gaan in ʼn poging om die eienaar op te spoor.

Volgens Van de Haar het hy gemengde reaksies op sosiale media gekry, van mense wat hom loof vir sy eerlikheid, tot ander wat meen dit is ʼn bedrogspul of ʼn grap. “Ek is nogal geskok dat mense so verbaas is dat ek nie die geld vir myself gevat het nie. Is almal dan deesdae oneerlik? Hoe kan jy net iemand anders se geld vat? Ek verstaan dit nie.”

Hy sê dat daar gelukkig nog geen kansvatters was wat probeer het om die geld op te eis nie en dat hy nou wag vir terugvoer van die bank of die werklike eienaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Elize ·

GENADE!!!!! Is van ons in SA so gewoond aan bedrog, moord en roof, dat sodra daar iets eerlik gebeur en nog eerlike mense bestaan, skrik hul, hul morsdood, en verander die positiewe in die negatiewe?

Rennie ·

Ek het nou dieselfde gedink. Om die regte ding te doen is baie vreemd vir baie daar buite.

Tracey ·

Ek het ‘n ruk terug ‘n geldsak van Coin opgetel. Hul gekontak en hul het dit kom haal. Hul was dankbaar omdat dit Clicks se kontrak was. Al wat ek gevra het was ‘n brief om die insident te bevestig. Wag nou nog daarvoor. Heel duidelik was hul nie dankbaar genoeg nie. Maar dis die regte ding om te doen

Peet Schabort ·

Tracey, die “coin” het seker op “stert” geval. Maar tenminste ‘n dankie van hulle is nie veel verwag. Ek het onlangs 20l melk gekoop en R120 betaal. Toe ek by die motor kom besef ek dat teen R7-10 skuld ek nog geld. Natuurlik het ek omgedraai en die res van R20+ gaan betaal. Ons het nie groot geword om ander wetend te verneuk maak nie saak die bedrag.

Elsabe ·

As jy werklik eerlik is en die regte pad stap en die opsie om die geld vir jouself te hou uitoefen sal dit veroorsaak dat jy nooit werklik goed voel nie oor jouself en vrede het nie.

Gideon ·

Hier is nog baie eerlike mense onder ons. Is dit is meesal die oneerlikes wat nie kan glo dat daar eerlike mense is …

snip ·

Wonderlik!!!! n Man met n goeie hart, sy vrou en kinders kan trots wees op hom. Sy wortels is diep gegrawe, hy hou vas aan sy waardes.

Gina ·

Wat die OOG nie sien nie maak die hart nie seer nie, maar eendag moet jy voor GOD gaan rekenskap gee. Mag jy net n geseende lewe hê, want eerlikheid kos niks…Mooi so

Johanna ·

Wat ‘n wonderlike voorbeeld vir ons almal. Kom ons hoop dit inspireer ander wat minder eerlik is om die voorbeeld te volg. So ‘n lekker goed-voel storie vir ‘n verandering.

nig ·

Met so ‘n van klink hy na ‘n Nederlander en dan lees mens van die ander Nederlander elders wat so mooi skoonmaak by ‘n dam waar hy elke dag verbyry- lyk my die kase kan ons iets leer van ordentlik lewe :D! En voor almal op my wil pik, ek weet, ek weet daar is sekerlik baie van ons eie mense wat dieselfde sal doen! Dis net toevallig in een uitgawe van Maroela lees mens twee positiewe bydraes van Nederlanders (of Nederlandse afkoms)! Nogtans mooi so meneer, ek het respek vi riemand soos jy!

Martha ·

Die Bybel sê nie verniet dat as jy nie in die kleinste vertrou kan word nie, hoe kan jy met grootter dinge vertrou word. Ek is ook bly dat Mnr van de Haar eerlik is en dat die Here hom nog baie meer gaan seën as wat die geld werd is. Miskien het die OTM die fout begaan om die geld uit te betaal en is dit nie regtig ‘n persoon se geld nie, maar die bank sin. Sterkte

Heleen ·

Ek het self so jaar gelede saam met my kind by Edgars uitgestap, met ‘n paar skoene in sy hand waarvan ons albei “vergeet” het. Na ‘n paar meter uit die winkel besef hy dat hy steeds met die paar skoene in sy hand loop. Ons het net daar omgedraai en dit gaan betaal. Indien ek net sou se ons moet aanstap, watter voorbeeld sou ek aan my kind stel?

Jen ·

Ek swat nog en is 21. Ek is met dit groot gemaak dat die wiel draai, doen jy goed aan ander dan kom dit terug na jou toe en as jy oneerlik is dan kom dit ook terug na jou. Ek n tyd terug n foon op kampus opgetel en dit toe gaan ingee by die regte mense, daarna het ek 2 keer my foon op plekke gelos en een keer my beursie(baie deur die mis van my) en dit altwee kere terug gekry!! Daarom waardeur ek al die bogenoemde opmerkings

Albert ·

At the end of the day it’s treat other the way you want to be treated. If that was my money I would want someone to give it back so why would I do any different. At least some of us can sleep at night and that’s all that count.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.