Foto’s: Olifant keer toeriste se motor om in wildtuin

Foto: SANParke/Facebook

Foto: SANParke/Facebook

‘n Olifant het Donderdag toeriste se motor by die Sable-dam in die Krugerwildtuin omgegooi.

William Mabasa, woordvoerder van die wildtuin, sê die drie toeriste was op pad na die Letaba-ruskamp.

Hy sê hulle het by die dam stilgehou. ‘n Olifant het aan die teenoorgestelde kant van die dam water gedrink.

Mabasa sê die olifant het deur die dam geloop en die toeriste se motor begin aanval.

Die olifant het die motor op sy dak omgekeer voor hy in die bosse verdwyn het nadat ‘n ander motor op die toneel aangekom het.

Mabasa sê volgens die toeriste het die olifant nie geïrriteerd voorgekom voor die aanval nie.

Hy sê een van die toeriste het ligte beserings opgedoen. “Hulle is almal deur ‘n dokter behandel voor hulle terug is huis toe.”

Mabasa sê meer as 1,5 miljoen mense besoek jaarliks die wildtuin en dat soortgelyke voorvalle baie seldsaam is.

ʼn Olifantbul is in Januarie in die wildtuin van kant gemaak nadat hy op 30 Desember ʼn egpaar se motor aangeval het.

10593171_10154490217820635_7300751991308042538_n

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Joey Fourie ·

Vriende van ons was ook ‘n paar weke terug in die Wildtuin, en vertel dat hulle ‘n soortgelyke ding gesien het. ‘n Olifant het ‘n spesifieke kar gestorm, en hy wonder of dit nie dalk die voertuig se ligte was wat die dier geïrriteer het nie. Veral die nuwe voertuie (o.a. Mercedes, Audi) wat die “snaakse” ligte het wat permanent aan is nie (die ligte wat ‘n L-vorm om die rand van die ligte maak).

EMK ·

Daar is mos altyd #*&%##$ wat die diere een of ander tyd verpes met ‘n getoet ens. Olifante vergeet nie, so dalk is dit ‘n geval waar een of ander swaap nou weer die arme diere verpes het een of ander tyd (en in ‘n soortgelyke motor gery het) en hy het dit onthou en nou-ja… Nou moet die olifant seker weer vankant gemaak word, ai.

Nella ·

Ek dink dit is die kleur van die motor. Ons het ‘n maroon Audi gehad en by Addo olifantpark het een ook vinnig na ons kant toe gekom. Ons het baie vinnig die pad gevat. Daar was baie silwer, wit en swart motors gewees en hy het nie eers na hul kant gekyk nie.

Adele ·

Ek kan nie verstaan hoekom ‘n olifant sy lewe moes prys gee oor die vorige voorval nie! Ek is seker dit moet baie skrikwekkend wees as so iets moet gebeur en jou voertuig word omgekeer maar ons moet almal onthou dat hierdie diere wilde diere is en dit is ‘n voorreg wat ons gegee word om hulle in HULLE natuurlike omgewing te kan aanskou.

Spinellie ·

Ek se nog altyd… F…. with nature, and nature f….’s with you!
Dis die olifante se habitat… hulle bos…. hulle huis…. enige een wat bedreig voel by sy huis,
sal beskerm.
Dan is dit altyd die diere wat van kant gemaak moet word!

Retha Holtzhausen ·

Ons gaan al 30 jaar Krugerwildtuin toe. Ook al jare na Pilanesberg. Ons het nog nooit moeilikheid met olifante gehad nie, want ons hou op ‘n veilige afstand en terg nie die diere nie. Sodra mens sien ‘n olifant, buffel, renoster of selfs leeu tree geirriteerd op, moet jy retireer en versigtig wees en jou afstand hou, of spasie los om weg te kom. Ons vermoed dat sekere motors se waaiers (fans) die olifante irriteer. Veral Volkswagens se waaiers gaan gou aan. Weet nie watter modelle ook nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.