Geboue en motor tydens Noordwes-bendebakleiery afgebrand

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Paar geboue en ʼn motor is Sondagmiddag in Noordwes aan die brand gesteek na ʼn bakleiery tussen ʼn taxivereniging en vermeende bendelede in Kanana.

“Die taxivereniging in Orkney was glo siek en sat van al die misdaad en het die informele nedersetting betree om die individue, wat hulle glo deel is van ʼn bende, te konfronteer,” het kol. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, aan News24 gesê.

Sy het gesê ʼn taverne, ʼn Nissan 1400-bakkie op die taverne se perseel en ʼn huis is aan die brand gesteek. Dit is nog nie duidelik wie verantwoordelik is vir die brandstigting nie.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek sake van brandstigting en openbare geweld.

“Die stasiebevelvoerder van Kinana, die voorsitter van die taxivereniging en die burgemeester van Matlosana het Sondag vergader om ʼn oplossing te vind,” het Mokgwabone bygevoeg.

Gaoage Molapisi, provinsiale LUR vir gemeenskapsveiligheid, het verlede week met polisiebeamptes en raadslede vergader oor bendebedrywighede in die gebied. Volgens ʼn verklaring van die departement teister groepe jong mense die gebied en hulle “verkrag, beskadig eiendom en moor mekaar”. Die bendelede bestorm glo huise met wapens soos tuinvurke. Inwoners het aan die departement gesê hulle is te bang om inligting aan die polisie deur te gee.

Die polisie patrolleer die gebied.

Bron: Jenna Etheridge, News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CHRISTA ·

Wat ‘n grap – die taxivereniging is moeg vir misdaad!! Wys jou: wat jy saai sal my maai. Die skoen is nou aan die ander voet!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.