Gee daai man ʼn Bell’s, en ʼn Pendoring!

'n Skermskoot uit die advertensie “The Reader” wat die Umpetha-toekenning ontvang het tydens die 2014 Pendoring-toekenningsgeleentheid

‘n Skermskoot uit die advertensie “The Reader” wat die Umpetha-toekenning ontvang het tydens die 2014 Pendoring-toekenningsgeleentheid.

Die advertensie “The Reader” vir Bell’s Whisky het gisteraand by die jaarlikse Pendoring-toekenningsgeleentheid vir uitmuntende reklame met die grootste prys wat by die geleentheid toegeken is, weggestap.

Die advertensie, wat ook in die eg-Suid-Afrikaanse kategorie ʼn goue Pendoring ontvang het, was vroeg vanjaar tydens uitsending op TV reeds ʼn groot gunsteling onder die publiek, en is reeds meer as 2.3 miljoen keer op Youtube gekyk. Die agentskap King James Kaapstad het R20 000 vir dié prestasie ontvang. Dieselfde advertensie het ʼn silwer Pendoring in die kategorie Eg Suid-Afrikaans: Vernuf (kinematografie) ontvang.

Die jaarlikse Pendoring-toekenningsgeleentheid, wat ten doel het om Afrikaanse en eg Suid-Afrikaanse reklame te vereer, is gisteraand by Vodaworld in Midrand gehou. Dis elke jaar ʼn hoogtepunt op die kalender van die Suid-Afrikaanse reklamewêreld.

Die student Judy Kriel van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus het haar toekenning as algehele studentwenner vir haar geïntegreerde veldtog MK – Sosiaal van die redakteur van Beeld, Adriaan Basson, ontvang. Haar prys is R10 000 kontant en ʼn studiebeurs. Kriel het ook ʼn goue Pendoring in die kategorie Eg Suid-Afrikaans: Geïntegreerde Veldtogte (studente) ontvang.

Die teleurstelling van die aand was dat die R50 000-prestigetoekenning nie toegeken is nie, omdat die inskrywings volgens die beoordelaars nie aan die vereistes vir ʼn prestige-wenner voldoen het nie.

Groot klem is vanjaar geplaas op die Afrikaanse karakter van die geleentheid, en die beoordelaars het dit duidelik gemaak dat die Afrikaanse reklame wat ingeskryf is, oor die algemeen nie aan die verwagtinge voldoen het nie. Japie Gouws, voorsitter van Pendoring se direksie en besturende direkteur van die ATKV-groep, het in sy slotrede aangevoer dat die direksie van Pendoring verbind is tot Pendoring se doelwit om kreatiewe Afrikaanse reklame aan te moedig. Hy het gesê Pendoring sal in die komende jaar agentskappe aanmoedig om meer reklame in Afrikaans te skep. Volgens Gouws word ʼn nuwe kompetisie-element van volgende jaar af deel van Pendoring, en die R50 000-prestigeprys wat nie vanjaar toegeken is nie, word oorgedra na 2015, wat die totale prysgeld vir volgende jaar op R100 000 te staan laat kom.

Die enigste Afrikaanse reklame wat met goue Pendorings weggestap het, was die veldtog “Hardloop, Heelal, Hakskene” van Joe Public vir die adverteerder Produce Sound (kategorie Oorspronklik Afrikaans); “Blaaskans Bederwers (swembad)” van die agentskap Openco vir World Leisure Holidays (kategorie Vernuf); en “Die Blink Projek” van Blink Stefanus vir die adverteerder Blink Stefanus.

Elf silwer Pendorings is in die Afrikaanse kategorieë toegeken. Klik hier vir ʼn volledige lys wenners.

Dis egter die eg Suid-Afrikaanse kategorieë wat met die kreatiwiteit van die finalis-inskrywings gaste laat lekkerkry het. Die oes was hier effens groter met vyf agentskappe wat met goue Pendorings huis toe is. Die kategorie Eg Suid-Afrikaans: TV het uitgestaan deur drie van dié vyf goue Pendorings op te lewer. Die gehoor se gunstelinge in dié kategorie was die televisie-advertensie “Giving” van First for Women, die veldtog “A rainbow for the rainbow nation (Coca Cola Southern Africa)”, “Be the most famous you” vir die Loerie-toekennings, en “Fossil Biscuits” vir IZIKO Museums of South Africa. Tien silwer Pendorings is ook toegeken.

In die studentekategorieë het die Noordwes-Universiteit hulle vanjaar van die res onderskei deur drie van die vyf (een goud en vier silwer) Pendorings in die studentekategorieë te verower.

Die agentskap FCB Johannesburg het daarin geslaag om vyf Pendorings in te palm  (een goud en vier silwer) terwyl Joe Public vier (een goud en drie silwer) ontvang het.

In die kategorieë Televisie/rolprentteater (met ʼn produksiebegroting onder R600 000), Tydskrifte, Kommunikasie-ontwerp en Studente: Reklame – Tradisionele Media is geen toekennings gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.