Gestrande walvis toe eintlik sonvis

'n Sonvis. Foto: Foto: @Fiona Ayerst.

‘n Sonvis. Foto: Foto: @Fiona Ayerst.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het die publiek gevra om op die uitkyk te wees vir ʼn beseerde sonvis in die omgewing van Saundersstrand in Bantrybaai, Kaapstad.

Volgens die NSRI is daar oorspronklik vermoed dat ʼn babawalvis in vlakwater in die moeilikheid beland het. Lede van die publiek het probeer om die “walvis” terug in die see te stoot waarna ooggetuies die NSRI gekontak het.

Die NSRI het egter met hul aankoms vasgestel dat dit ʼn beseerde sonvis is. Volgens die NSRI is die vis as gevolg van die hooggety herhaaldelik teen die rotse vasgeslaan. Die vis het ook verskeie kere op die rotse uitgespoel.

Volgens die NSRI het dit gelyk of die vis geen poging aangewend het om weer in die water te kom nie en homself herhaaldelik probeer strand het. Die vis het snye en skaafplekke op sy lyf opgedoen. Die vis het laatmiddag weer op die rotse uitgespoel en die NSRI het planne in plek gestel om die vis na die Waterfront-akwarium te vervoer vir behandeling.

Lede van die publiek het egter die vis weer in die water in gestoot. Daar word intussen gehoop dat die vis weer sal uitspoel waarna dit na die akwarium geneem sal word. Die NSRI het die publiek versoek om die stad Kaapstad se noodnommer te skakel indien hulle die vis gewaar. Die nommers is 107 (van ʼn landlyn) en 021 480 7700 (van ʼn selfoon).

Die sonvis word so genoem aangesien dit op die oppervlak van die water dryf. Sonvisse kan tot sowat 3m lank word en tot 2 ton weeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.