Goeie nuus: Dit reën komberse by die Uniegebou

67-komberse

Dit was ‘n reënboog van kleur soos komberse by die Uniegebou in die hoofstad uitgestal is. Foto: 67 Blankets for Nelson Mandela Day (South Africa) se Facebookblad.

Die Uniegebou was ʼn reënboog van kleur Dinsdagoggend nadat meer as 21 000 handgemaakte komberse op die trappe van die landmerk in Pretoria uitgestal is. Die komberse het een reusagtige kombers gevorm in ʼn geslaagde poging om ʼn nuwe wêreldrekord vir die grootste kombers op te stel.

“Dit reën komberse en ons is oorval met die mooiste handgemaakte komberse van regoor die land wat sedert Maandag hier afgelewer is. Die wêreldrekord is maar net een stap ons poging om stekie-vir-stekie Suid-Afrikaners warmer te hou tydens die winter,” het Carolyn Steyn, die stigter van die 67 Komberse vir Mandela-dag inisiatief, gesê.

Carolyn, ʼn bekende in die vermaaklikheidsbedryf en beskermvrou van verskeie Suid-Afrikaanse teaters en dansgeselskappe, het in Januarie 2014 bekendes en lede van dié bedryf betrek by die inisiatief. Bekendes soos Gareth Cliff, Johnny Clegg, Melinda Bam en die radio-persoonlikheid Anele Mdoda het onderneem om ʼn kombers vir die inisiatief te brei.

Dit is ook nie net Suid-Afrikaners wat aan die kombers-projek deelgeneem het nie. Groepe in Amerika, Indië, Australië, België, Kanada en selfs Duitsland en Nederland het aan die inisiatief deelgeneem.

Die 67 Komberse vir Mandela-dag het onlangs ook ʼn toekenning ontvang vir die beste Mandela-dag inisiatief. “Ons is geëerd om betrokke te wees by hierdie inisiatief. Dit is projekte soos hierdie wat help om ons land saam te snoer veral in moeilike tye. Ons wil elke naaldwerker bedank vir hul bydrae tot die droom om behoeftiges warm te hou hierdie winter,” het Sello Hatang, uitvoerende direkteur van die Nelson Mandela Stigting, gesê.

Die komberse wat Dinsdag by die Uniegebou uitgestal is, is dieselfde dag nog aan hul plek van oorsprong vir verspreiding terugbesorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gina ·

Ek hoop daar is komberse vir wit ook. Mense dit gaan bitter swaar met die wit mense in Danville. Hul kry min skenkings van die buite wyke. Hul is afhanklik van kerk kospakkies. Mense moet asb n hand uitsteek na di gemeenskap… Dankie Helpende hand

Sylvia ·

Dis absoluut wonderlik, die gees van samewerking is wonderlik. Nou kan daar dalk begin word om hierdie sulkes te leer om self “vis te vang”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.