Goeie nuus: Oud-polisiebeamptes, restaurantklante trek grypdief vas

Die vermeende grypdief nadat hy aangekeer is. By hom is die veiligheidswag van Monitor Net en Marna en Rowland Moss. Foto: Leana Leonard.

Die vermeende grypdief nadat hy aangekeer is. By hom is die veiligheidswag van Monitor Net en Marna en Rowland Moss. Foto: Leana Leonard.

ʼn Vermeende grypdief het Dinsdag in Pretoria sy rieme styfgeloop toe hy ʼn voormalige polisiekolonel se selfoon in ʼn besige restaurant wou steel.

Rowland Moss en sy vrou, Marna, albei voormalige kolonels in die Suid-Afrikaanse Polisiediens en inwoners van Eldoraigne, was Dinsdag by die Pepper Chair-restaurant in Centurion toe drie verdagtes, twee vroue en ʼn man, by die restaurant ingestap het.

“Die drie het by ʼn tafel langs ons gaan staan en vir die kelner gesê hulle wil ʼn tafel hê vir drie,” het Marna Woensdag aan Maroela Media vertel. “Die man het met sy rug na ons gestaan en amper onopmerklik sy hand agtertoe uitgesteek en my selfoon gevat. Gelukkig het ek dit gesien. Ek het opgestaan en hom aan die kraag gegryp en vir hom gesê ek het hom gesien en met my ander hand my selfoon teruggegryp.”

Die man het homself losgeruk en padlangs weggehardloop, met Marna en Rowland, asook ʼn paar van die ander restaurantklante, kort op sy hakke.

Die twee vrouens het hulself in die harwar vinnig uit die voete gemaak.

Rowland het die man amper ingehaal, maar is skrams deur ʼn verbygaande motor gestamp. “Ek het darem nie seer gekry nie, ek het net vanoggend so paar blou kolle en stywe spiere. Ek dink ek raak nou oud,” het Rowland Woensdag geskerts.

Steven Visser (20), ʼn inwoner van Waverley wat saam met sy oom en pa gaan uiteet het, het die verdagte ingehardloop en aangekeer, waarna Rowland en Marna hom aangehou het totdat MacDonald Leshokgohla, ʼn veiligheidsbeampte van Monitor Net, by hulle oorgeneem het.

“Ek het gesien daar was ʼn beroering en dat die man weghardloop met mense wat hom agterna sit, toe spring ek oor die reling en sit hom ook agterna,” het Visser ná die voorval aan ʼn Maroela Media-korespondent, wat op die toneel was, gesê. “Ek was glad nie bang nie. Ek dink dis belangriker dat mense moet saam staan in só ʼn situasie as om bang te wees.”

Die verdagte is deur die Wierdabrug-polisiestasie in hegtenis geneem.

Elrina Labuschagne, die restaurant se aandbestuurder, het aan die korrespondent gesê die voorval is op kringtelevisie afgeneem. Sy was vol lof vir Monitor Net wat spoedig op die toneel was. Na wat verneem word, het Leshokgohla ook een van die verdagte vroue ná die voorval opgespoor en aangekeer.

Kapt. Agnes Huma, woordvoerder van die Wierdabrug-polisiestasie, het aan Maroela Media bevestig dat ‘n 26-jarige man in hegtenis geneem is op aanklag van selfoondiefstal. Die man moet binnekort in die Pretoria-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

anet ·

Dit is goeie nuus en wel gedaan aan almal wat hierby betrokke was, en saam gestaan het om hierdie DIEF te vang. Hulle word al hoe makker en het geen gewete oor wie hulle beroof nie.

ladybug ·

Dis mos hoe dit gedoen word! As die gemeenskap saamstaan, gaan misdadigers meer hul rieme styf loop!

Elmarie ·

Wonderlik!! Ek stem saam, ons moet saam staan!! Well done aan almal betrokke!! Die diewe kom net met te veel weg, ons moet wys ons is nie bang nie en veg vir ons reg…

Pierre Celliers ·

“Vermeende” dief? Was hulle nie seker of dit hy was nie?
“Waarna en Rowland en Marna….”
Ai tog!
Goedgedoen met die aankeer van die swernoot!

Leeutjie ·

Dit gee mens ‘n lekker gevoel. Ek wens net hulle kan die gemors vang wat Maandag die 2 pa’s ook doodgeskiet het! Albei saam met hulle gesinne is pragtige mense en so onnodig. Dis hartverskeurend!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.