Goeie nuus: PE-polisie vang juweelrowers

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

ʼn Op en wakker polisiebeampte het Donderdag ʼn groep rowers se plan gefnuik om die Fishers-juwelierswinkel in die Greenacres-winkelsentrum in Port Elizabeth te beroof.

Brig. Marinda Mills, provinsiale polisiewoordvoerder van die Oos-Kaap, het gesê sewe verdagtes het omstreeks 10:15 voor die winkel opgedaag en hulle as werkers voorgedoen wat verbeteringe aan ʼn naburige winkel gedoen het.

“Van die verdagtes het die winkelvensters met groot hamers probeer stukkend slaan, terwyl die ander die winkel ingegaan en die personeel met gewere aangehou het,” het Mills gesê.

Die polisiebeampte was aan diens, het die oproering gehoor en dadelik reageer.

“Toe hy naby die winkel gekom het, het die verdagte op hom losgebrand en hom in die been gewond. Hy het teruggeskiet en ʼn verdagte in die been gewond. Die ander verdagtes het in ʼn silwer Toyota Venture van die toneel gevlug,” het Mills bygevoeg.

Die gewonde verdagte is in hegtenis geneem en onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem. Geen lid van die publiek is beseer nie.

Die verdagtes se voertuig is later verlate in Newtonpark gekry. Die polisie het beslag gelê op ʼn sak juwele en ʼn vuurwapen in die motor.

“Die Venture is Woensdag in Sydenham as gesteel aangemeld. Daar was bloed in die voertuig en die vermoede bestaan dat meer verdagtes tydens die skietery gewond is. Die hospitale is in kennis gestel om op die uitkyk te wees.”

Mills het gesê die polisie het omstreeks 15:00 nog twee van die verdagtes in die parkeergebied van die winkelsentrum vasgetrek. Hulle was in ʼn blou Volkswagen Polo.

Die drie verdagtes moet binnekort in die hof verskyn. Die ondersoek na die res van die verdagtes duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

anet ·

Welgedaan aan die op en wakker polisiebeampte wat vinning die situasie opgesom en gereageer het. Dit is goeie nuus vir ons almal as ons hoor dat die verdagtes aangekeer is, en dat die roof gefnuik is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.