Grahamstad-man tronk toe oor kinderporno-webwerwe

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Man van die Oos-Kaap is tot 10 jaar tronkstraf gevonnis vir sy betrokkenheid by internasionale kinderpornografie-webwerwe.

Lt.genl. Solomon Makgale, woordvoerder van die polisie, het gesê Anthony Ronald Evans (53) het skuldig gepleit op die aanklagte teen hom. “Hy het ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan om effektief 10 jaar agter tralies te bly vir sy betrokkenheid by kinderpornografie.”

Evans is in Maart 2015 deur die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe by sy huis in Grahamstad in hegtenis geneem. Dit was deel van ʼn gesamentlike operasie met die Amerikaanse federale speurdiens (FBI).

Evans is deur die FBI geidentifiseer nadat sewe mense in Amerika in hegtenis geneem is vir hul betrokkenheid by webwerwe wat onskuldige kinders gelok het om by pornografiese aktiwiteite betrokke te raak.

Die FBI het vasgestel dat die webwerwe van Suid-Afrika af geadministreer word. “Teen dié tyd is nagenoeg 600 slagoffers, tussen agt en 13 jaar oud, reeds uitgebuit.” Volgens Makgale was Evans die webmeester en het ander gebruikers vals profiele op sosiale media-platforms geskep en voorgegee hulle is dieselfde ouderdom as hul slagoffers om hulle te lok om betrokke te raak.

Volgens Makgale het die verdagtes die kinders se aandag getrek en hulle stelselmatig oorreed om aan seksueel eksplisiete aktiwiteite deel te neem terwyl hulle sonder hul medewete afgeneem is.

Die polisie het tydens hul klopjag op Evans se huis op 16 hardeskywe, ʼn skootrekenaar, twee videokameras en twee kameras beslag gelê. Evans is in Maart na sy eerste paar hofverskynings op borgtog van R40 000 vrygelaat.

“Die polisie verwelkom die vonnis aangesien dit ʼn sterk boodskap uitstuur in die aanloop tot kindersbeskermingsweek dat dié soort misdade op die felste manier moontlik hanteer sal word,” het Makgale gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.